Deurnat vloedslagoffers sê dankie maar nee dankie

Deur Buziwe Nocuze

Gift of the Givers is Maandag verstom gelaat toe inwoners van Gxagxa in Kaapstad hul hulp van die hand gewys het nadat swaar reën shacks regoor die informele nedersetting oorstroom het.

Die inwoners het vasgestaan, kos en komberse geweier en eerder permanente behuising geëis. “Ons is moeg. Ons wil dit nie meer hê nie,” het inwoner Lundi Diko, 36, gesê.

“Altyd wanneer ons hutte oorstroom, kry ons dieselfde goed,” sê die gefrustreerde inwoner.

“Ons kry kos en komberse en niks anders nie”

Hulle wil permanente behuising hê, nie tydelike hulp nie.

Alhoewel die Gift of the Givers verduidelik het dat hulle nie verantwoordelik is vir die bou van huise nie, het die inwoners vasgestaan en enige hulp van die hand gewys.

Amanda Matiki, 40, het verduidelik dat die aanvaarding van kospakkies en komberse tot hul probleme bydra.

“Wat gaan ons met kos maak as die reën weer terugkom terwyl ons nog in hierdie modderplas woon?” sy het gevra.

Nie almal was egter bly om te sien hoe die komberse en kospakkies weggewys word nie.

Een inwoner het gesê hy verstaan nie hoekom die gemeenskap nie Gift of the Givers se hulp aanvaar het nie.

“Ek het eers gedink hulle maak ’n grap totdat ek gesien het hoe die organisasie se voertuie ons gebied verlaat,” het die inwoner gesê.

“Wat hierdie mense gedoen het gaan deure vir ons laat toeslaan. Sommige van ons wou kospakkies hê. Daardie inwoners wat hulp geweier het, het nie die behoeftes in ag geneem van diegene wat nie werk nie.”

Ali Sablay, die Wes-Kaapse projekbestuurder van Gift of the Givers, het gesê die organisasie hanteer soortgelyke situasies regoor die land.

“Ek het met hulle vergader, en ek verstaan ​​hul frustrasie,” het hy gesê.

“Hulle het gesê as daar weer harde reën kom, sal die skenkings tot niet gaan.”

Sablay het die eerlikheid van die gemeenskap se versoek erken en die adjunkminister van menslike nedersettings gekontak om te kyk of hulle kan help. Hulle het belowe om binnekort ‘n vergadering met die gemeenskap te hou.

Sablay het gesê sy organisasie kannie waarborg dat hulle sal terugkom nie, aangesien hulle baie besig is.

“Ek wens hulle alle sterkte toe,” het hy gesê, en sy teleurstelling uitgespreek dat sy span nie kon help nie.

Op die foto hierbo: Gxagxa-inwoners in Gugulethu het Gift of the Givers se gegewe perd in die bek gekyk

Fotobron: Buziwe Nocuze