Deur Zukile Majova
Die polities parasitiese verhouding tussen die SAKP (Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party) en die ANC duur voort ten spyte van die kommies se vroeëre dreigemente om hul bittersuur samesyn te beëindig.
Na ‘n vier-dag lange vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) is die kommuniste na die ANC se arms teruggelok; die algemene mening is dat ‘n egskeiding tussen die twee partye op die vooraand van die 2024-verkiesing ‘n morsige affêre sou wees.
Febe Potgieter, uitvoerende lid van die ANC, het aan die media gesê die NUK se 87 lede het die bekommernisse van die SAKP gedebatteer en besluit die verbondenheid van hierdie bedmaats moet maar voortgaan.
“Ons siening is dat dit baie verkeerd sal wees vir die progressiewe en transformerende agenda in die land, want dit sou beteken dat ons van ANC-lede verwag om tussen die ANC en die SAKP te kies.
“Ons het ‘n diep saamlopende lidmaatskap, of gedeelde lidmaatskap en leierskap,” het Potgieter gesê.
Sy het gesê sommige SAKP-leiers verteenwoordig die ANC in munisipaliteite, in gemeenskapstrukture, in wyke en in provinsiale regering. Met ander woorde, dit sou ‘n baie morsige egskeiding wees.
“Dit sal wees soos om tussen jou ma en jou pa te kies wanneer hulle moeilike tye tref.”
Maar dis niks nuuts nie. Op die vooraand van elke verkiesing vergader die SAKP sentrale uitvoerende komitee en hersien sy posisie in die regerende drieparty-alliansie met die ANC en Cosatu.
Te dikwels word die ANC-leierskap afgepers, met eise van insluiting op die ANC-lys van LP’s en sommige poste in die immer-groeiende kabinet.
Die SAKP dring aan op winsgewende poste, topsalarisse, ander byvoordele en invloed in al drie regeringsfere van die ANC.
Sonder ‘n enkele stem was die SAKP in Februarie braaf genoeg om met President Cyril Ramaphosa te vergader om die behoud te bespreek van sy voorsitter, Blade Nzimande, en ander ministers met SAKP-agtergronde in Ramaphosa se kabinet.
Die afgelope paar jaar het ANC-presidente onder druk geswig om lede van die SAKP se uitvoerende gesag in poste by plaaslike, provinsiale en nasionale regering in te sluit.
Die belastingbetaler dok op vir salarisse van hierdie SAKP-lede wat slegs in die regering is oor die ANC se ja-woord:
• SAKP eerste adjunksekretaris Mandala Masuku – Adjunkminister vir Ekonomiese Ontwikkeling (2014-2019)
• SAKP tweede adjunkpresident David Masondo – Adjunkminister van Finansies
• SAKP-voorsitter Blade Nzimande – Minister van Hoër Onderwys, Opleiding, Wetenskap en Tegnologie
• SAKP se adjunk nasionale voorsitter, Thulas Nxesi – Minister van Indiensneming en Arbeid
• SAKP nasionale tesourier Joye Moloi-Moropa – voormalige LP (danksy die ANC)
• Ander prominente SAKP-uitvoerende lede in die regering sluit in Gwede Mantashe (minister: Minerale en Energie), Bhuti Manamela (adjunkminister: Hoër Onderwys), Sdumo Dlamini (LP), Fikile Majola (adjunkminister: Handel en Nywerheid), Andries Nel (adjunk: Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake), Stan Mathabatha (Limpopo Premier), Lechesa Tsenoli (adjunkspeaker: Nasionale Vergadering).
Op die foto hierbo: ANC Nasionale Uitvoerende Komitee-lid Febe Potgieter lig die media in oor ANC-bande met die SAKP en Cosatu
Fotobron: @MYANC