Dit is ’n bietjie laat vir Nuwejaarvoornemens, maar eerder laat as nooit vir Patches die kat, van Richmond, Virginia, in die VSA.
Die dierasie, wat 20kg weeg, het ’n sensasie op sosiale media geword nadat Richmond se dieresorgsentrum ’n huis vir hom gesoek het.
“Het jy vanoggend wakker geword en gedink ‘Ek wil die grootste kat aanneem wat enigeen nog gesien het’? Indien wel, het ons net die regte kat vir jou,” het die advertensie op Facebook gelui.
Hulle het Patches as saggeaard beskryf, en gesê hy eet nou gesonder en volg ’n oefenplan om gewig te verloor.
“Intussen verwonder ons ons aan sy glorieryke, oordadige postuur.”
Daar sal van ’n voornemende eienaar verwag word om die dieet en oefenplan vol te hou.
Werkers by die sentrum het gesê Patches was eers baie skaam voordat hy uit sy dop gekruip het.
“Ons was almal geskok deur sy grootte. Hy is beslis die grootste kat wat enigeen by die sentrum nog gesien het,” het ’n segspersoon aan People gesê.
Patches is binne twee dae aangeneem, nadat daar derduisende aansoeke was. Kay Ford, ’n plaaslike vrou, is as die gunstigste aansoeker gekies.
Sy het gesê: “My dogter het gisteroggend vir my die advertensie aangestuur en gesê, ‘Dis jou oomblik,’ en nadat ek op die foto geklik het, het ek geweet ek wil Patches hê!”
Die ouma het selfs ’n sosiale mediablad geskep waarop belangstellendes Patches se fiksheidsvordering kan dophou.
Die swaarste kat wat nog opgetekn is, was Himmy, uit Australië, wat die skaal op 22kg laat kreun het. Sy is op 10 Maart 1986 dood. Sy was 10.
Saamgestel deur eie verslaggewer
In die foto hierbo: Patches die kat
Fotobron: Twitter