Lot van SA burgers in Soedan nog in die weegskaal

Daar is nog geen spoedige uitkoms in sig vir die 77 Suid-Afrikaanse burgers wat in die geweldgeteisterde Soedan gestrand is nie.

Clayson Monyela, hoof van openbare diplomasie by die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco), het gesê veiligheidsagentskappe is “ver gevorder” in hul pogings om Suid-Afrikaanse burgers en diplomate te ontruim, maar die voortdurende gevegte in Soedan maak dit ‘n “gevaarlike en gewaagte operasie”.

Monyela het bygevoeg dat die lughawe gesluit is, en nie een van die roetes uit die land is sonder risiko nie.

Monyela het gesê Dirco kommunikeer met Suid-Afrikaanse burgers deur ‘n WhatsApp-groep wat ambassadepersoneel insluit wat ook in Soedan gestrand is.

“Ons sal almal op datum hou,” het hy gesê.

Ander lande soos Frankryk, Italië, Turkye en die Verenigde State het reeds hul burgers uit Soedan ontruim.

Die gevegte tussen weermaghoof Abdel Fattah al-Burhan se magte en die Rapid Support Forces (RSF) van sy voormalige adjunk Mohamed Hamdan Daglo het reeds meer as 400 lewens gekos en duisende gewond gelaat.

Die gevegte, wat op 15 April begin het, is ontketen deur ‘n dispuut oor die beplande integrasie van die RSF in die gewone leër – ‘n sleutelvoorwaarde van ‘n ooreenkoms wat daarop gemik is om Soedan se demokratiese oorgang te herstel nadat voormalige leier Omar al-Bashir in 2019 omvergewerp is.

Die twee mans, wat aanvanklik kragte saamgesnoer het om die burgerlike regering omver te werp wat ná Bashir se ondergang aangestel is, is mekaar nou vyandig gesind.

Met die geweld wat geen teken van afkoel toon nie, bly die lot van Suid-Afrikaanse burgers wat in Soedan gestrand is, onseker.

Saamgestel deur Personeelskrywer

Op die foto bo: Die geweld in Soedan

Beeldbron: Twitter