Keniaanse kultushoof dwing glo hongerdood af

Polisie in Kenia het 58 liggame, insluitend dié van kinders, in massagrafte ontdek nadat die leier van ‘n kultus glo sy volgelinge opdrag gegee het om van die honger heen te gaan.

Die grafte is geleë in Shakahola-woud, naby die dorpie Malindi, waar 15 lede van die Good News International Church verlede week gered is.

Die groep se leier, Paul Makenzie Nthenge, is tans in aanhouding hangende ‘n hofverskyning.

Keniaanse staatsuitsaaier KBC het Nthenge as ‘n “kultusleier” bestempel en berig dat 58 grafte tot dusver geïdentifiseer is. Die opgrawings duur voort.

Patoloë doen tans toetse om vas te stel of die slagoffers van die honger omgekom het.

Nthenge, aan wie borgtog geweier is, het enige oortreding ontken. Hy het na bewering vir sy volgelinge gesê om hulself uit te honger sodat hulle “Jesus kan ontmoet”.

Die prediker het glo drie dorpies – Nasaret, Bethlehem en Judea – genoem en sy volgelinge in damme gedoop voordat hy hulle opdrag gegee het om te vas.

Volgens die Keniaanse dagblad The Standard is ontdek dat vier mense hulself tot die dood toe uitgehonger het, wat tot Nthenge se inhegtenisneming op 15 April gelei het.

Die land se minister van binnelandse sake, Kithure Kindiki, het die 800-hektaar woud tot misdaadtoneel verklaar en dit afgesper.

Victor Kaudo van die Malindi Social Justice Centre het aan Citizen TV gesê: “Wanneer ons in hierdie woud is en by ‘n plek kom waar ons ‘n groot, hoë kruis sien, dan weet ons dit beteken meer as vyf mense is daar begrawe.”

Kenia is ‘n godsdienstige land, en daar was al vantevore gevalle van mense wat by ongereguleerde en gevaarlike kerke of kultusse ingesleep is.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Die opgrawings

Fotobron: Twitter