Laatvat met Lucky: Spelers vol selfvertroue wen wedstryde – totdat daardie selfvertroue kwyn, skryf Lucky Maree.
Toe Manie Libbok van die Sharks af by die Stormers opgedaag het, was dit sonder ’n indrukwekkende rekord. Dit was ’n op-en-af-storie, en dit het nie gelyk asof die Sharks te veel verbeur nie.
Maar in Kaapstad het hy floreer.
“Ek is tuis,” het hy gesê, en die spankultuur en die afrigter, John Dobson, se lof besing. En hy het goeie rugby begin speel. Hy was voorwaar tuis.
Hierdie naweek was hy op sy beste en ’n sleutelspeler in sy span se sege met 38-22, ses drieë teen twee, teen Benetton. Dit was ’n lus om te aanskou.
Maar die vorige week, teen Munster, toe dit werklik saakgemaak het, was hy afwesig – en sy skopwerk was power. Dit sou laf wees om die skuld vir die nederlaag met twee punte op hom te pak, maar hy het daartoe bygedra.
Dit het gelyk of hy sy selfvertroue kwyt was.
Terwyl Libbok teen Benetton op die veld was, het Sacha (Feinberg) Mngomezulu op heelafter geskitter teen die WP.
Hy het die veld vol gespeel, ’n drie gedruk en ’n strafskop en twee doelskoppe oorgeklits.
Hy was opwindend en het van selfvertroue oorgeloop, en was by al die WP se aanvalle betrokke. Sy drie binne die eerste drie minute was ’n juweel en het sy vertoning geanker. Dit was beslis nie sy skuld dat die WP met ’n punt teen die Pumas verloor het nie.
Mngomezulu se ster verrys. Dit sal tragies wees as Manie Libbok s’n vervaag.
Albei neem hulle span se skoppe waar – en wissel tussen verstommend goed en afgryslik swak.
Kies jy ’n speler vir sy skoppe of sy algemene spel? Die vraag is so oud soos rugby self.
Die Stormers speel binnekort hulle wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Bulls, en Dobson moet tussen skoppers kies – met Libbok en Mngomezulu hoog op die lys.
En oor ’n paar maande wag daar drie enorme wedstryde op die Springboke teen Australië, Argentinië en Nieu-Seeland. Rassie Erasmus en Jacques Nienaber moet dieselfde keuses maak. Handré Pollard sal sekerlik die eerste keuse as losskakel en skopper wees, maar met wie as sy adjudant?
Waarskynlik Damian Willemse, maar Libbok en Mngomezulu is ook in die prentjie.
Nie een van die vier is geheel en al betroubaar nie, en mens kan wraggies nie weer vir Morné Steyn kies nie, of hoe?
Wat van die Lions se skrumskakel Sanele Mohamba? Hy ís ’n betroubare skopper en ’n goeie skrumskakel.
Maar hulle almal is op hulle beste wanneer daar min druk is. Wanneer die druk toeneem, loop hulle fut vinnig uit. Tawwe besluite vir die Stormers, tawwe besluite vir die Bokke.
In die foto hierbo: Manie Libbok
Fotobron: Twitter