Hiënas los in plakkerkamp

Deur Karabo Rammutla

Toe ’n groep tieners beweer het hulle is deur twee hiënas gejaag op pad terug van ’n kuierplek, het inwoners gemeen hulle moes baie dronk gewees het.

Maar vreemde dieregeluide in die nag het die mense van Resort 77-kamp in Mamelodi-Oos twee maal laat dink.

Verlede Vrydag is kerkgangers wat van hulle aandgebed op pad huis toe was deur die hiënas agternagesit. Nuus van hierdie ontmoeting met die wilde aasdiere het gemaak dat niemand hulle huise wil verlaat nie.

Isabella Malapane, een van die kerkgangers wat die hiënas teëgekom het, het gesê sy is steeds getroumatiseerd.

“Ek het eers gedink dis honde, maar hulle oë het geblink, en toe ons hulle lagkrete hoor, het ons geweet dis hiënas. Ons het vir ons lewens gevlug,” het sy gesê.

“Nog mense het gesê hulle het die gelag gehoor. Dis asof hulle vir ons lag omdat ons onsself inhok.”

Abel Lamula, ’n inwoner, het gesê teen 7nm is al die winkels toe en niemand waag dit op straat nie. Hy het gesê die karnivore moet sekerlik op mense jagmaak, aangesien niemand vee aanhou nie. “Hier is nie eens bokke. Hulle is agter ons aan,” het hy gesê.

Abel het gesê hulle grootste vrees is dat daar ’n creche naby die bosse is.

“Sê nou maar hulle gryp ’n kind? Die stad Tswane moet ons na ’n veilige plek verskuif om ’n tragedie af te weer.”

Die gebied bevat ’n reservoir wat die grootste deel van Mamelodi van water voorsien. 

Lindela Mashigo, segspersoon vir die stad, het gesê die gebied word nie as ’n plakkerskamp gereken nie.

In die foto hierbo: Só lyk die gediertes wat in die plakkerskamp opgemerk is. Die foto is nie daar geneem nie.