Skotse langasem vat kortpad – in ‘n kar!

Deur Razeen Gutta

‘n Skotse ultra-marathon-hardloper is uitgevang dat sy deel van ‘n 80 km-wedloop in ‘n motor voltooi het.

Joasia Zakrzewski het amper met moord weggekom tydens die 2023 GB Ultras Manchester na Liverpool 50 myl-wedren, maar is sedertdien gediskwalifiseer.

Die 47-jarige het blykbaar taamlik tam gevoel en wou die handdoek ingooi. Maar in plaas daarvan om ‘n nederlaag te aanvaar, het sy besluit om te kul en lekker uitgerus terwyl sy 2.5 myl van die baan in ‘n motor afgelê het. Sowat van slinks!

Tegnologie het egter haar slenter onthul. Wie sou kon dink dat karteringsdata so ‘n pretbederwer mog wees?

Joasia se vriend Adrian Stott het daarna haar bas probeer red deur te sê dat sy “kortpad” gevat het.

Skotse Atletiek-voorsitter David Ovens het sy teleurstelling oor die saak uitgespreek en gesê hy hoop daar sal ‘n geldige verduideliking wees vir haar optrede.

In die verlede was Joasia Zakrzewski ‘n ambassadeur vir Britse sport, maar hierdie voorval gooi ‘n donker wolk oor haar reputasie.

Sy het in 2020 ‘n 24-uur-byeenkoms in Australië gewen en het al vir Skotland in die marathon verteenwoordig tydens die Statebondspele.

Kom ons hoop dis die laaste kortpaadjie waarmee sy probeer wegkom – anders is vierwiel- in plaas van tweebeenwedrenne van nou af haar voorland.

Op die foto hierbo: Joasia Zakrzewski

Fotobron: @CapaMag