Aria Babu is op ’n sending om die wêreld te red – en meen meer babas is die antwoord.
Dit kom in teenstelling met wetenskaplike navorsing wat aantoon dat oorbevolking die omgewing blywende skade aandoen en ’n bedreiging vir die mensdom se voortbestaan inhou.
Babu, ’n 26-jarige Suid-Afrikaans-gebore miljardêr, deel haar mening met ’n ander Suid-Afrikaans-gebore miljardêr: niemand anders nie as Elon Musk.
Babu het uit haar pos by ’n dinksentrum in London, Engeland bedank om die wêreld te kan red.
“Dit het duidelik geword dat mense meer kinders wil hê as wat hulle wel het,” het Babu aan The Telegraph gesê.
“Dit is ’n enorme deel van mense se lewens. Die feit dat hulle nie hierdie begeerte kon vervul nie, wys iets is nie pluis nie.”
Babu het in Desember 2021 by ’n sake-konferensie gesê: “Tensy mense meer kinders het, gaan die beskawing ineenstort. Hoor wat ek sê!”
Musk het op sy beurt gesê lande soos Japan, met een van die laagste geboortesyfers in die wêreld, sal ten gronde gaan indien die patroon voortduur.
Sommige nasies is so bekommerd oor ’n gebrek aan geboortes dat hulle ma’s beloon as hulle meer kinders kry.
China het aborsies begin beperk nadat dit dekades lank afgedwing is op enigeen wat klaar ’n kind het. Rusland het ’n Sowjetmedalje heringestel vir vroue wat 10 of meer kinders het.
Diana Fleischman, ’n sielkunde-professor by die Universiteit van New Mexico, het ouers wat “verantwoordelik, slim en hardwerkend is” aangemoedig om kinders te hê, want “hulle gaan die toekoms beter maak”.
Ouers Simone en Malcom Collins, albei in hulle dertigs, het ’n maatskappy in Amerika met die naam Pronatalist begin, wat druk op die regering wil plaas om meer vrugbaarheidsklinieke te skep.
Die paartjie het drie kinders, en wil nog baie meer hê.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
In die foto hierbo: Simone en Malcom Collins