Gqeberha se taxi-gemeenskap gatvol vir stank, vullis en vere

Deur Anita Dangazele

As jy sê “eNjoli Taxi-staanplek” is meeste mense se eerste gedagtes: Die vieslike reuk van bloed, urine en gissende rommel. En moenie vergeet van die hoendervere nie – dis oral.

Maar die nare prentjie is op die punt om te verander danksy ‘n onlangse skoonmaakveldtog deur Uncedo Taxi Vereniging, in vennootskap met Nelson Mandelabaai Munisipaliteit.

Woensdagoggend het taxibestuurders en straatverkopers in groot getalle opgemars om na die munisipaliteit se openbare gesondheidsbeamptes te luister. Hulle het inligting ontvang oor die belangrikheid daarvan om hul omgewing skoon te hou.

Die veldtog is te danke aan ‘n volgehoue ​​verbintenis tussen die metro, Uncedo, verkopers wat in die rondte werksaam is en pendelaars, sowel as bekommerde inwoners. Die doel is om met volhoubare oplossings vorendag te kom om onwettige storting te beëindig – ook elders, maar spesifiek rondom die taxi-staanplek.

Ntombikhona Tyumre, 37, wat ‘n kosstalletjie by eNjoli-plein bestuur, sê van die verkopers se grootste uitdagings is ‘n gebrek aan water, elektrisiteit, en skoonmaakgeriewe.

“Ons het nie water hier nie, maar daar is ’n stukkende pyp oorkant die straat waar ons water opvang. Daar is ook geen elektrisiteit by die taxi-staanplek nie, en sommige mense gebruik onwettige verbindings om te kan kook.

“Dit stink iets vreesliks, want ons het nie vullissakke nie. Munisipale amptenare verkoop die sakke in plaas daarvan om dit gratis aan ons te gee.”

Tyumre het bygevoeg dat die munisipaliteit se ablusiegeriewe teen 5nm gesluit word, wat hulle dwing om waarookal te urineer – vandaar die vieslike stank by die taxi-staanplek.

NMB se Uncedo-hoofsekretaris, Khanyile Royi, het gesê as vereniging is hulle verheug om te sien dat werk gedoen word om die stand van sake by eNjoli-plein te verander.

“Onwettige storting was ‘n groot probleem en die munisipaliteit het skoongemaak voordat mense weer begin het om rommel te strooi,” het Royi gesê.

Toe Scrolla.Africa vroegoggend by die taxi-staanplek aankom, is ‘n inwoner betrap terwyl hy rommel onwettig gestort het in ‘n gebied wat pas skoongemaak is.

Die munisipaliteit, by navraag oor wat hulle gaan doen om te verseker dat inwoners nie aanhou om rommel agter die taxistaanplek te stort nie, het gesê hulle laat dit in die bekwame hande van taxibestuurders, wat bekend is daarvoor dat hulle afwykers kortvat.

Thsonono Buyeye, lid van die burgemeestersraad vir openbare gesondheid, het gesê: “Ons het ‘n vennootskap aangegaan met Uncedo, as hoofbelanghebbende van hierdie besige staanplek, en met plaaslike verkopers. Ons weet daar is vroue wat ‘n bestaan ​​hier maak, maar die waarheid is dat vere van die hoenders wat hulle verkoop, bloed en ander vuilgoed die area ongesond maak vir enigeiemand om in te werk.

“Daar is ook die probleem van onwettige storting, wat ons vandeesweek deur onderrig gaan aanspreek. Hulpbronne sal aan die gebied se verkopers verleen word om te verseker dat die situasie nie teruggaan na hoe dit voorheen was nie.”

Op die foto hierbo: Tshonono Buyeye en NMBM se uitvoerende direkteur van Openbare Gesondheid, Sizwe Mvunelo, versamel rommel

Fotobron: Anita Dangazele