Deur Anita Dangazele
’n Verwoestende ontploffing by die Coega Industriële Ontwikkelingsone in Maart het gelei tot die skorsing van sewe hooggeplaaste amptenare in Nelson Mandelabaai se energie en elektrisitet-direktoraat.
Die ontploffing het dele van die stad in duisternis gehul en watertekorte veroorsaak, wat die droogte-krisis vererger het. Die geraamde skade het ’n duiselingwekkende R40-miljoen beloop.
Volgens stadsowerhede is vuilspel van die begin af vermoed, nadat daar tekens van inbraak by die substasie gevind is. Noxolo Nqwazi, die stadsbestuurder, het die verdagte beamptes kort daarna uit die Energie- en Elektrisiteit-department geskors.
Maar dit is nie al nie. NMBM se uitvoerende burgemeester, Retief Odendaal, het bevestig dat hierdie saak een van die grootste korrupsienetwerke in die munisipaliteit se bestaan kan onthul.
“Ons glo ons staan op die punt om een van die brutaalste korrupsieskemas in die administrasie se geskiedenis bloot te lê, wat deur die jare miloene rande uit die staatskoffers gestroop het.”
Die voorlopige bevindings is aan die Spesiale Ondersoekeenheid en die Valke oorhandig vir ’n kriminele ondersoek.
Terwyl die stad worstel met die nasleep van die ontploffing, is die publiek steeds woedend en geskok. Baie dele van Gqeberha, wat Motherwell Township insluit, was sonder krag, wat groot ontwrigting in mense se daaglikse lewens en in die nywerheidsektor veroorsaak het.
Daar hang steeds vraagtekens oor hoe so iets kon gedeur het, en wie die toutjies agter die skerm getrek het. Die impak van die ontploffing, en die skade wat dit aangerig het, kan nie oorbeklemtoon word nie.
In die foto hierbo: NMBM se uitvoerende burgemeester, Retief Odendaal, en Energie- en Elektrisiteitshoof, Lance Grootboom
Fotobron: Verskaf