Dis ‘n ander tipe duimgooi dié

Michael Rohana van Delaware, VSA, het skuld beken op ‘n aanklag dat hy die duim van ‘n Chinese standbeeld afgebreek en gesteel het. Die beeld se waarde is ‘n koel R82 miljoen.

Rohana het verklaar dat hy dronk was toe hy per ongeluk die duim afgebreek en toe daarmee weggehardloop het.

Hy is in 2018 aangekla van die diefstal en wegsteek van ‘n museumstuk van kulturele erfenis, strafbaar deur ‘n moontlike 30 jaar agter tralies.

Maar Maandag het Rohana skuldig gepleit en dus sy vooruitsig vir tronkstraf na slegs een jaar verminder, het Insider berig.

Hy het ook nie die standbeeld om verskoning gevra na hy sy duim gegaps het nie.

Rohana het ‘n “aaklige trui” Kersparty op 21 Desember 2017 by die Franklin Museum in Philadelphia bygewoon toe hy weggesluip het na ‘n uitstalling genaamd Terracotta Warriors. Die uitstalling was gesluit vir partytjiegangers en het verskeie terracotta-beeldhouwerke ingesluit van krygers, gevind in die graf van China se eerste keiser.

Die beeldhouwerke, wat dateer van 210 tot 209 VC, is van China geleen en word beskryf as ‘n “onskatbare deel” van die land se kulturele erfenis, volgens die FBI.

Rohana het die duim afgebreek van ‘n standbeeld bekend as die Kavalier, wat vir R82 miljoen verseker was, en dit huis toe geneem.

Die saak is verskeie kere uitgestel weens Covid-19 en uitstaande hofstukke, maar Rohana het uiteindelik skuld beken en sal amptelik op 17 Augustus gevonnis word.

So volgende keer as jy val en ‘n standbeeld van sy duim ontneem, is die maklikste uitweg miskien om ruiterlik jou fout te erken.

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

Op die foto hierbo: Die standbeeld wat sy duim verloor het