Verwed jou huis op die Springbokke

LAATVAT MET LUCKY: Op die oomblik lê die Springok-rugbyspan vierde op beroepswedders se lys van waarskynlike Wêreldbekerwenners – maar dalk sit hulle die boerpot mis, meen Lucky Maree.

Beroepswedders soos Ladbrokes en Hollywoodbets is gereeld in die kol met hulle vroeë wedpryse (wat later ook op ouens soos ons se weddenskappe bereken word).

Soos sake nou staan, ’n halfjaar voordat die Wêreldbeker in Augustus en September in Frankryk plaasvind, het hulle die tuisspan losvoor, gevolg Nieu-Seeland, met Ierland derde en Suid-Afrika vierde.

Vierde? Dalk nie.

Frankryk is die gunsteling om verskeie redes. Vat maar die manier waarop hulle Engeland in die Ses-Nasiesreeks verpletter het, met sewe skitterdrieë – en dit nogal op Twickenham. Wanneer Frankryk só speel, is hulle onkeerbaar.

Tuisvoordeel gaan ook in hulle guns tel. Jy gaan ver soek na ’n meer weerbarstige), eensydige en uit-en-uit aggressiewe skare as dié in Frankryk.

Hulle jou uit, sis en fluit onophoudelik, en plaas ongelooflike druk op die skeidsregters in ’n toernooi wat maklik deur iets soos ’n rooikaart-beslissing geswaai kan word.

Natuurlik het hulle van die beste spelers in die wêreld. Antoine Dupont word gereken as een van die beste skrumskakels wat die wêreld nog gesien het, met die heelagter Thomas Ramos amper in dieselfde klas.

Wat sal verhinder dat hulle wen?

Die 2019 Springbokke is die enigste span sover wat die beker kon wen na ’n vroeë nederlaag. Die vraag is of Frankryk hulle beste dwarsdeur die toernooi kan lewer. In die Ses Nasies kon hulle nie.

Die All Blacks is tot dusver uiters middelmatig met Ian Foster as afrigter. Op hulle beste is hulle briljant, maar die afgelope tyd sien ons dit min.

Pleks hulle die arme ou huis toe stuur en Scott “Razor” Robertson inbring, om lewe in die span te blaas.

Ierland, ondre Andy Farrell, hoort beslis nie onder die All Blacks op die ranglys nie.

Hulle was manjifiek in die Ses Nasies, maar mens wonder of hulle nie te gou hulle toppunt bereik het nie. Selfs hulle sege teen Engeland was flouerig. Is hulle beste dae getel? Waarskynlik nie, maar dis stof tot nadenke.

Johnny Sexton, die span se groot inspirasie, is beseer, en ’n losskakel is die moeilikste speler op die veld om te ontvang. Hulle moenie daarop reken dat hy betyds reg gaan wees nie.

En dan, die Bokke.

Rassie Erasmus en Jacques Nienaber gaan soos skaak se grootmeesters te werk. Hulle het nog nie ’n voet verkeerd gesit nie.

Die powere vertonings van ons spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap en veral die Heinekenbeker kan dalk donker dae voorspel, maar by die Wêreldbeker kies jy jou topspan, en hoef jy nie jou talent te verdun nie.

Daar is wel hindernisse, soos Eben Etzebeth se skouerbesering, maar Erasmus en Nienaber sal weet of hy topfiks is of nie, en die regte besluit neem.

As jy die waaghalsige tipe is, en jy het ’n huis om te verwed, is die Bokke nie ’n slegte keuse nie. Hulle wedprys is vier teen een. Dalk sit jy teen die einde van die toernooi met vier huise.

In die foto hierbo: Die Springbokke hou die Webb Ellis-Wêreldbeker omhoog

Fotobron: SA Rugby