Gemeenskapsaktivis vermoor onder neus van Kaapse cops

Deur Buziwe Nocuze

Voormalige ANC-jeugligalid Loyiso Nkohla is Maandag omstreeks 10:30vm doodgeskiet in die Philippi-satellietpolisiestasie naby die plaaslike spoorwegstasie.

Nkohla, leier van die Ses’khona People’s Movement, het ‘n vergadering bygewoon met plakkers wat op die spoorlyn nesgeskop het. Prasa beoog om treindienste in die gebied te herstel en Nkohla was betrokke by onderhandelinge oor die plakkers se verskuiwing.

Die vergadering het skaars begin toe drie mans daar opgedaag het. Volgens getuies het twee buite die polisiestasie gebly terwyl die derde na binne is. Nkohla het hom teëgekom buite die kamer waar die vergadering gehou is, en volgens getuies het die man toe op Nkohla losgebrand.

Nkohla is dood en drie mense is in die koeëlreën gewond.

Maandagmiddag het gemeenskapslede hartseer toegekyk terwyl ‘n forensiese span gewerk het op die toneel waar Nkohla vermoor is.

Mense was stomgeslaan oor die verlies van iemand wat so hard geveg het vir inwoners van informele nedersettings. Lizalise Mtongana het gesê: “Wie gaan nou veg vir ons plakkerskampe? Hoekom moes hulle iemand vermoor wat baklei vir die regte van arm en benadeelde mense?”

Nkohla het saam met ander gewerk om inwoners wat op die sentrale spoorlyn gebly het te verwyder. Wyksraadslid Lindikhaya Payi, wat saam met Nkohla gedien het, bekommer hom nou dat sy afsterwe ‘n voetsleep in vordering sal veroorsaak.

Namhla Ngundze, ‘n inwoner van die Covid-plakkerskamp, het haar dankbaarheid vir Nkohla se ondersteuning uitgespreek: “Ons het baie voorvalle gehad waar wetstoepassers ons shacks begin afbreek het, maar vandat hy betrokke geraak het is minder daarvan ervaar, en woon ons rustig hier.”

Nkohla was bekend vir ‘n voorval 10 jaar gelede toe hy en ander aktiviste draagbare toilette van ‘n informele nedersetting na Kaapstad Internasionale Lughawe en ander terreine geneem het. Na die voorval is daar na hom verwys as ‘n “poefgooier”.

Die nuus van Nkohla se dood het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, en baie mense het hul medelye op sosiale media uitgespreek. Een persoon het geskryf: “Dit is ‘n hartseer dag vir die mense van Kaapstad. Ons het ‘n sterk leier verloor wat geveg het vir die regte van die armes en mense op die samelewing se kantlyn.”

Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder Adjudant-offisier Joseph Swartbooi het gesê die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.

“Onbekende verdagtes het van die toneel af gevlug en moet nog in hegtenis geneem word, en die motief vir die aanval is nog nie vasgestel nie.”

Op die foto hierbo: Loyiso Nkohla se ontydige dood is ‘n groot verlies vir die mense van Kaapse informele nedersettings

Fotobron: Buziwe Nocuze