Deur Zukile Majova
Belangrike godsdienstige vakansiedae herinner Suid-Afrikaanse werkers maar steeds aan die apartheidsera se verregaande trekarbeid-regime.
Ons durf die groot trek aan huise toe – op woes besige paaie – en die wonderlike samesyn met ons families genees alle kwale van gees.
So was dit ook die geval verlede week toe duisende werkers van die land se ekonomiese hutspotte in Johannesburg, Kaapstad en Durban op die laaste oomblik huis toe gespaander het vir die Paasnaweek.
Baie werkgewers hou hul personneel in die tuig tot skrams voor Goeie Vrydag, en verseker sodoende hierdie dolle gejaag.
Meeste pendelaars is gesinne se hoofbroodwinners en verantwoordelik vir die heil van uitgebreide families; hul paddood – God bewaar ons – sal tientalle magies honger laat.
Hierdie Paasfees was die normale snelwegbloedbad besonder skrikwekkend: boewe verbind aan die taxibedryf het luukse langafstand busse van Intercape aangeval en op hulle geskiet of met klippe bestook in dele van die Oos-Kaap.
En Maandag, toe ek van KwaBhaca af terugkeer Johannesburg toe – sowat 850 km van Scrolla.Africa se kantoor – was my ouma MaRadebe Shushu tot haar kneë gedwing. Sy het sonder ophou gebid toe sy hoor dat my terugkeerpad, die N3, bestrooi was met 41 motors na ‘n massa-ongeluk.
Minstens vyf is in dié ongeluk dood en byna 80 mense het in die hospitaal beland. My 95-jarige ouma het dus die ergste gevrees.
Ouma is gebore op 10 Junie 1928; sy neem sy geen medikasie van enige aard nie, versorg steeds haar tuin, en eet meestal organiese produkte en vleis van vrylopende hoenders en vee.
Ons bejeën haar as hoofpilaar van ons familie. Op Paasfees keer haar kinders en kleinkinders van alle uithoeke van die land af terug om saam met Ouma brood te breek, om die hemele en voorvaders te bedank.
Die grootmaak en opvoed van ons familie word befonds deur die teel en verkoop van vee so ons besit skape, bokke en beeste gereed vir slag tydens familiefeeste, wanneer die oumense hul kennis en ervarings met die kleintjies deel.
Hedendaagse broodwinners is slagoffers van die sogenaamde ‘black tax’, maar dit is alles vir ‘n goeie doel.
Zenkosi Dyomfana, ‘n beleggingsbestuurder by Investec, definieer swart belasting as ‘n term vir finansiële ondersteuning wat ‘n professionele persoon of entrepreneur van kleur verplig is om op ‘n deurlopende basis, bo en behalwe hul eie lewenskoste, aan hul gesin te verskaf.
“Soms word dit onbewustelik aangepak, as ‘n soort terugbetaling vir opofferings wat deur vorige geslagte of familielede gemaak is.”
Maar aan die einde van die dag is die Paasvakansie ‘n tyd van geestelike genesing en nadenke oor ons Christelike en voorvaderlike oortuigings.
En ek sal dit vir niks prysgee nie.
Video: Ek ry die laaste stukkie pad na Toleni Village in KwaBhaca, die land van my geboorte