Deur Linda Ximba
Nkululeko “The Bulldog” Mhlongo het ná ’n professionele boksloopbaan van 19 jaar besluit om sy handskoene op te hang.
Die tweemalige Suid-Afrikaanse en Wêreld-boksfederasie-kampioen en KZN-boorling, wat nou in Gauteng woon, het kajuitraad gehou met sy gesin en sy promotor, Lebo Mahoko van Dream Team Promotions, voor hy die besluit geneem het.
Mhlongo het onlangs sy SA midelgewigtitel teen John Bopape in Mangaung verloor. Bopape se donderslag-regtervuis het Mhlongo in die 11de ronde planke toe gestuur. Die Bulhond het besef sy dae is getel.
Hy het in die junior-middelgewigafdeling vuisgegooi teen formidabele teenstanders soos Isaac Hlatshwayo, Page Tshesane, Sikhulule Sidzumo, Brandon Thysse en Emmany Kalombo.
“Ek is klaar. Ek het deur die jare baie straf verduur,” het Mhlongo gesê. Hy is nietemin dankbaar vir dit wat boks vir him beteken het.
“Ek kon ’n huis vir my gesin koop en die wêreld vol reis.”
Hy sal nie vir die sport verlore wees nie. “Ek will my kennis en ervaring inspan om toekomstige kampioene te help ontwikkel.”
Boksgeesdriftiges sal Mhlongo onthou vir sy geneigdheid om een hand agter sy rug te hou en net met die ander te baklei wanneer hy geweet het hy gaan wen.
Mahoko het hulde aan sy bokser gebring vir sy toewyding aan en bydrae tot die sport.
“Ons is hartseer om hom te sien gaan, maar dankbaar vir dit wat hy die sport gebied het. Hy sal altyd deel van die boksfamilie wees, en ons wens hom alles van die beste toe vir sy pad vorentoe,” het Mahoko gesê.
In die foto hierbo: Nkululeko Mhlongo en sy promotor, Lebo Mahoko
Fotobron: Nick Lourens