Arnie! Mzansi het ’n pos vir jou!

Die Terminator-akteur Arnold Schwarzenegger het op eie houtjie begin om Kalifornië se slaggate toe te stop – en lagwekkend misluk. Waarheen volgende as Mzansi, die slaggat-hoofkwartier?

Dinsdag het die akteur en politikus besluit hy is, um, gatvol vir die “enorme” slaggat in die straat voor sy huis. “Dit het weke lank karre en fietse beskadig,” het hy gesê.

Dus het hy, ’n man van aksie, ’n graaf, ’n kamera en ’n paar vriende nader gehark en die gat begin vul.

“Ek en my span het dit reggestel,” het hy op Twitter gespog.

Maar Arnie het nie besef dit was nie ’n gewone slaggat nie. Dit was om die waarheid te sê glad nie ’n slaggat nie, maar ’n sloot wat deur padwerkers gegrawe is – en hulle was nie beïndruk nie.

Los Angeles se stadsbeamptes het in ’n verklaring gesê die die sloot sal oopgegrawe moet word sodat werkers die taak kan afhandel.

Wel, dis die voorneme wat tel, of hoe?

In daardie gees wil ons voorstel dat Arnie volgende kan inspring om Suid-Afrika se slaggate te begin vul.

Dit behoort nie te lank te vat nie. In Johannesburg word daar elke week ongeveer 1 000 nuwe slaggate aangemeld. Kaapstad bestee R110 miljoen per jaar om elke week 250 slaggate te vul.

Na raming het Suid-Afrika meer slaggate as huise!

So, Arnie, beskou hierdie as ’n amptelike uitnodoging na Mzansi.

In die illustrasie hierbo: Dis dalk hoe Arnold Schwarzenegger die slaggat-probleem in Suid-Afrika gaan oplos

Beeldbrom: Twitter (Arnie) / Verskaf (agtergrond)