Deur Buziwe Nocuze
‘n Passasier wat meer as twee weke gelede geskiet is terwyl hy in ‘n Intercape-bus op pad was Kaapstad toe, doen ’n beroep op die busmaatskappy om verantwoordelikheid vir die voorval te aanvaar.
Hy wil hê hulle moet hom vir sy beserings vergoed.
Die 42-jarige slagoffer, wat verkies het om anoniem te bly uit vrees vir vergelding, is teleurgesteld in die gebrek aan omgee van Intercape se kant af.
“Ek is daardie Sondag geskiet, maar niemand van die maatskappy het die moeite gedoen om uit te vind hoe dit met my gaan, en of die wond besmet is nie,” het hy gesê.
“Dit is duidelik dat hulle aangaan met hul lewens asof niks gebeur het nie, terwyl ek in pyn leef en snags nie kan slaap nie.”
Die voorval het naby Cradock plaasgevind toe die bus aangeval is op pad Kaap toe – glo deur boewe wat by die taxi-bedryf betrokke is. Die bestuurder het die passasiers meegedeel dat die bus met klippe bestook is, maar hy het nie stilgehou nie omdat hy onseker was oor wat die aanvallers sou doen.
‘n Paar minute later het die slagoffer ‘n brandende sensasie in sy linkerbobeen gevoel en bloed opgemerk.
“Ek is hulle verantwoordelikheid, want ek is in hul bus geskiet. Hoekom tree hulle op asof dit my skuld is?” hy het gesê.
“Die voorval het soveel pyn veroorsaak, my bobeen is geswel en ek het al meer as R600 spandeer op medikasie.”
Hy beweer dat hy sy eie geld moes gebruik om medikasie te koop, aangesien hy die medikasie wat die hospitaal verskaf het in ‘n privaat Intercape motor agtergelaat het.
“Ek het die medikasie in hul kar vergeet. Toe ek hulle kontak, het hulle vir my gesê ek het dit nie daar gelos nie. Ek is nie onnosel nie. Ek het in die kar geklim met my medikasie,” het hy gesê.
Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape, het op die slagoffer se bewerings gereageer en gesê dat die maatskappy hom tuis besorg het.
“Ons span was ook gereeld in kontak met die passasier en het ook met die hospitale in Cradock en Worcester geskakel om namens hom ‘n voorskrif vir sy medikasie te reël. Dit is nie korrek dat Intercape hom nie sedert die voorval gekontak het nie,” het hy gesê.
Adjudant-offisier Majola Nkohli het gesê die ondersoek na die aanvalle op Intercape-busse word deur ‘n span speurders van die Provinsiale Georganiseerde Misdaadeenheid hanteer.
“In hierdie stadium is daar geen deurbrake nie, maar ons volg alle leidrade en die ondersoek duur voort,” het Nkohli gesê.
Op die foto hierbo: ‘n Intercape-passasier is gelukkig om te lewe nadat hy deur onbekende mense in sy linkerbobeen geskiet is terwyl hy in die bus was
Fotobron: Verskaf