Deur Bathandwa Ndlangisa
‘Cool’ is nou te koop in die helderste skakerings van geel, rooi, en blou. Belangriker nog is dat die hipste amapiano-sterre, Black Coffee, Connie Ferguson, en Tanzanië se voorste sokkerspan dit ook dra. Ja, ons praat van die wêreldwye Vaya-tekkie sensasie, al die pad van Katlehong aan die Oos-Rand.
Vaya Footwear stigter, Themba Makamo, het egter aanvanklik min geluk aan sy kant gehad.
“Ek het beperkte hulpbronne en strawwe mededinging gehad, en somtyds in myself getwyfel,” onthou Makamo oor die bekendstelling van sy sneaker-handelsmerk in 2017.
Maar Vaya, wat “go for it” beteken in township-taal, vertel ‘n storie van ‘n man wat hom nie van stryk laat bring nie. Makamo het aanhou fokus op sy tekkie-projek en het ondanks vele struikelblokke nooit moed opgegee nie.
Die blink Vaya-idee het ontstaan terwyl hy vryskutwerk as vervaardiger van multimedia-inhoud vir sy plaaslike gemeenskapskoerant gedoen het. Hy is aangevuur om sy eie besigheid te begin deur die inspirerende stories van plaaslike helde wat hul drome bewaarheid het.
Maar dit was ook Makamo se unieke visie van wat sou werk, wat gelei het tot die sukses van Vaya-tekkies – hulle lyk enige dag so goed soos die voetgoed wat Adidas en Puma die wêreld instuur.
Daarom het Suid-Afrikaanse amapiano-kunstenaars soos Amaroto, Uncle Waffles en Major League dit tydens hul Amerikaanse en Europese toere gedra.
Sodoende is Vaya vir die eerste keer aan internasionale kliënte blootgestel en, volgens Makamo, het sy internasionale aanlynverkope toe die hoogtes begin inskiet.
Black Coffee het dit tydens die hoogtepunt van Covid-19 begin aanskaf en afwys.
Vaya oorbrug selfs generasies. Ferguson sê sy dra nou met trots die tekkies nadat sy dit by haar dogter gesien het.
En hulle het op die Afrika-vasteland ook naam gemaak. Die grootste Tanzaniese sokkerspan, Simba FC, dra dit as deel van hul uniform.
“Ek is trots op wat Vaya Sneakers bereik het en dankbaar vir die ondersteuning,” sê Makamo.
Sy verhaal dien as inspirasie vir entrepreneurs, en bewys dat met deursettingsvermoë, vasberadenheid en ‘n verbintenis tot uitnemendheid, sukses beslis binne jou bereik is.
Op die foto hierbo: Themba Makamo
Beeldbron: Verskaf