Eerste reël van fight club? Jy rek nie jou bek oor fight club nie.
Wel, iemand het nie by die reëls gehou nie, want ‘n onderwyser in Florida, VSA, is gearresteer omdat sy haar graad ses leerlinge in brutale, georganiseerde gevegte teen mekaar laat baklei het.
Angela Footman, 23, het nie daarin geslaag om enige van die gevegte wat in haar klaskamer plaasgevind het op te breek nie, en het selfs reëls uiteengesit toe die studente begin het om handgemeen te raak.
Footman het aan die studente gesê: “Dertig sekondes, geen geskreeu nie, geen fone nie,” volgens ‘n beëdigde verklaring, berig Insider.
Vier vroulike studente van Footman se klas het hierdie inligting aan die plaaslike polisie verskaf.
Maar die studente het Footman se “geen telefone”-reël geïgnoreer. Video’s van minstens drie gevegte wat einde Maart vanjaar deur studente in die klaskamer verfilm is, is deur die polisie gade geslaan.
Die video’s wys hoe Footman die studente sien baklei en opmerkings maak soos “geen geskree, g’n niks” en “hou op hare trek”.
Die onderwyser het na bewering ook twee meisies gevra of hulle dit wil “oordoen” ná ‘n geveg tussen hulle.
Twee van die meisies wat aan die gevegte deelgeneem het, was nie eens deel van Footman se klas nie en het hul ander lesse gemis om aan die gevegte te kon deelneem.
Toe hulle met die speurder gepraat het, het die meisies onthul dat die gevegte vooraf beplan was en nie uit die bloute gebeur het nie.
Footman het op 28 Maart bevestig dat die bakleiery in haar klaskamer plaasgevind het, maar het ontken dat sy dit georganiseer het, of meisies uit ander klaskamers ontbied het om by die gevegte betrokke te raak.
Sy het ook erken dat sy haar klaskamer swak beheer het, maar het gesê die bakleiery was te vinnig vir haar om dit stop te sit.
Toe die polisie haar ook gevra hoekom sy nie hulp ontbied het nie, was Footman se verskoning dat die foon op haar lessenaar buite werking is.
Sy staan nou tereg op verskeie aanklagte van bydra tot die misdrywe van minderjariges, volgens ‘n persverklaring deur die Leon County-balju se kantoor.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Op die foto hierbo: ‘n Klaskamer