Sekswerkers in Amsterdam se rooiligdistrik glo die nuwe aandklokreël het hul besigheid beïnvloed.
Die plaaslike regering het onlangs veranderinge gemaak aan distriksregulasies, insluitend korter werksure, hoër huurgeld en meer riskante werk, wat glo die vroue in die winkelvensters se veiligheid bedreig.
Die veranderings wat op 1 April in werking getree het, beteken dat vensteroperateurs nie tussen 3vm en 6vm mag besigheid doen nie.
“Ons het nogal ‘n paar dramatiese veranderinge gesien,” het Phoebe, ‘n sekswerker in die distrik, aan Insider gesê.
“Ek dink baie van ons het verwag om miskien vir ‘n paar weke, of dalk maande, nie ‘n verskil te sien nie, maar vanaf die eerste nag was daar beduidende veranderinge.”
Die rooiligdistrik, waar vroue in winkelvensters uitgestal word en hul dienste aanbied, is al etlike jare die middelpunt van vurige debat.
Politici, insluitend Amsterdamse burgemeester Femke Halsema, het gesê die distrik lok misdadigers en toeriste wat wild partytjie hou, baklei, die strate opmors en werkers mishandel.
Phoebe het gesê dat korter werksure hul huur verhoog het weens ‘n groter aanvraag na kleiner werksruimtes.
“As jy ‘n sekswerker is wat vir kontant werk, dan dra jy daardie tyd van die nag baie kontant rond, so dit vat nie ‘n baie slim misdadiger of straatboef om te weet dat dit ‘n goeie tyd is om rond te hang nie,” het sy gesê.
Halsema ondersoek die moontlikheid om die distrik permanent te sluit.
Maar die sekshandel behoort nie skade te ly nie, aangesien die burgemeester beoog om ‘n gesentraliseerde, veelverdieping “erotiese sentrum” te open, wat ‘n markplek vir seksuele dienste sal skep, weg van die hoofstrate af.
“Ek hoop dit is moontlik om ‘n erotiese sentrum te skep met ‘n mate van klas en styl, nie ‘n plek waar misdadigers en die kwesbaarste vroue bymekaarkom nie,” het Halsema volgens The Guardian gesê.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Op die foto hierbo: Amsterdam se Rooiligdistrik