Deur Bathandwa Ndlangisa
Suid-Afrikaners loop ‘n groot risiko om slagoffers te word van kubermisdaad op die donker web.
Dié feit is onthul in ‘n nuwe studie wat deur die kuberveiligheidsmaatskappy NordVPN gedoen is.
Die studie het aan die lig gebring dat persoonlike data, insluitend betaalkaartbesonderhede, selfoonnommers en aanlyn rekeningbesonderhede vir so min as R31 verkoop word, terwyl Suid-Afrikaanse paspoorte die vierde goedkoopste wêreldwyd is, en vir so min as R156 op die donker web verkwansel word.
Persoonlike besonderhede wat deur Netflix, Uber en Twitter gestoor word, loop die grootste risiko van diestal. NordVPN het een van die donker webmarkte met ‘n totale onwettige verkoopswaarde van R270.4 miljoen ontleed.
Tegniese kenner en HUB van Nihka Technology Group, Yashmita Bhana, het gesê hierdie kommerwekkende misdryf word vergemaklik deur Suid-Afrika se swak dataprivaatheidsregulasies.
“Dit is van kardinale belang vir organisasies en regerings om proaktiewe maatreëls te tref om hul sensitiewe data te beskerm teen donker web aankopies. Ons het al klomp individue, organisasies en regerings in verskillende dele van die wêreld gehelp,” het sy aan Scrolla.Africa gesê.
Tlangelani Manganyi, woordvoerder van die Minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, het aan Scrolla.Africa gesê die regering het ‘n kuberveiligheidsentrum en ‘n nasionale reaksiespan wat met rekenaarsekuriteitsvoorvalle afreken.
“Die doel van die veiligheidsentrum is om die kuberruimte ‘n omgewing te maak waar alle inwoners van Suid-Afrika veilig kan kommunikeer, sosialiseer en vertroulik kan handel dryf,” het hy gesê.
Moeketsi Lekgwathi het aan Scrolla.Africa gesê hy het die eerste keer van die donker web gehoor toe hy ‘n slagoffer van kubermisdaad geword het.
”Om eerlik te wees, ek het nooit geweet van die donker web nie tot daar eendag fout was met my Netflix-rekening, wat aktief was op my foon, skootrekenaar en slim-TV. Ek het skielik besef dat my rekening deur ander mense met verskillende toestelle gebruik word.
“Toe ek probeer om die probleem op te los, is ek meegedeel dat my rekening nie deur gewone kuberkrakers geteiken is nie, maar deur ‘n gevaarlike sindikaat. Dit was toe als waar, want ek het ná ’n paar maande besef ek het verdagte aftrekorders waarvan ek nie bewus was nie,” het die 35-jarige van Pretoria gesê.
Nthabi Sibisi, van Johannesburg-Suid, was ook ‘n slagoffer van kubermisdaad.
“Ek het ‘n donker web-slagoffer geword deur elektroniese diensverskaffers. Ek het baie van hul dienste gebruik vir werk, partytjies, kerk en ander geleenthede tydens die vakansieseisoen. Ek is nie seker hoe hulle my persoonlike inligting bekom het nie, maar het onlangs ‘n brief van die bank ontvang waarin hulle gevra het dat ek ‘n lening terugbetaal wat ek kwansuis gedurende Desember aangegaan het,” vertel Sibisi.
Nie Marang Setshwaelo, direkteur van Netflix Sub Sahara Africa, of die kommunikasiehoof van Uber South Africa, Mpho Mutuwa, was beskikbaar vir kommentaar ten tyde van publikasie van hierdie artikel nie.
Op die foto hierbo: Die donker web