Deur Zukile Majova
Al wat die ANC hoef te doen om die volgende verkiesing te wen, is om beurtkrag te beëindig of opmerklik te verminder.
Opposisie-partye reken daarop dat die energie- en kragkrisis voor aanstaande jaar se verkiesing gaan vererger.
Die ANC, wat in 2019 se verkiesing landwyd slegs 57.5% van die stemme kon werf, loop gevaar om nie ’n volstrekte meerderheid by die stembus te behaal nie.
In verkiesings vir plaaslike regerings in 2021 kon hulle net 45% van die stemme lok.
Werkloosheid, korrupsie, hoë lewenskoste en ’n algemene ineenstorting van infrastruktuur sal na verwagting ’n groot invloed op kiesers se besluit uitoefen wanneer hulle hulle kruisies trek.
Maar niks gaan ’n groter rol speel as beurtkrag nie. Dis kos die land R1 miljard per dag en het ekonomiese groei met meer as 2% laat krimp en werkskepping in alle sektore teruggehou.
Die minister van energie, Gwede Mantashe, het gesê die ANC-regering sal alles in hulle vermoë doen om die kragtoevoer te stabiliseer en beurtkrag binne die volgende ses na 12 maande te beëindig.
Mantashe het gesê as beurtkrag die enigste ammunisie in opposisie-partye se kiesveldtogte gaan wees, sal die ANC weer wen.
“Ek is seker die programme wat die minister van elektrisiteit instel sal beurtkrag binne ses tot 12 maande oplos, soos ek voorspel het.
“As dit die enigste rede is waarom hulle dink hulle kan ons uitskop, sal hulle met iets anders vorendag moet kom,” het Mantashe aan Newzroom Afrika gesê.
Indien beurtkrag opgeskort word, sal dit die politieke landskap aan die vooraand van Suid-Afrika se belangrikste verkiesing sedert 1994 geheel en al verander.
Beurtkrag is die vernaamste hindernis in die pad van President Cyril Ramaphosa se pogings om die land te herbou.
Die Ramaphosa-regering het die plundering van staatsmaatskappye, wat met regeringshulp plaasgevind het, stopgesit. Dit het belastingbetalers miljarde der miljarde rand in die bestek van 10 jaar gekos.
Maar pogings om staatskapasiteit te herbou en Suid-Afrika te reposisioneer as ’n aanloklike beleggingsbestemming is deur beurtkrag ondermyn.
DA-leier John Steenhuisen is aan die voorpunt van pogings om die strydige opposisiepartye te verenig en saam te staan teen die ANC.
In die foto hierbo: Die ANC moet vordering maak in die beurtkrag-krisis as hy sy meerderheid in die komende verkiesing wil behou
Fotobron: Twitter