Deur Dezzi Lennox
Die Ikeys Tigers het nog nie een keer vanjaar so honger gelyk nie, en kort voor lank was hulle 30-0 voor en knuppeldik teen die Shimlas in Maandag se halfeindstryd in die rugbyreeks om die Varsity-beker op Shimlapark in Bloemfontein.
Daar was ’n effense insinking, soos mens seker te wagte kan wees ná ’n feesmaal soos daai, maar daar was nooit enige sprake van verloor nie. Die eindtelling was 65-30. Ikeys het teen rustyd al vyf drieë gedruk en was 37-7 voor.
Die Kaap se ander groot hoop, die Maties, se toernooi is verby. Noordwes Arende, wat vroeër in die seisoen teen hulle verloor het, het hulle in wedstryd wat teen halfpas gespeel is, vergeleke met die ander halfeind, met 19-10 in die Fanie du Toit-stadion in Potchefstroom geklop.
Die eindstryd is volgende Maandag op dieselfde veld.
Die Shimlas se agttal, een van hulle troefkaarte deur die jar, was bra bedeesd teen die Ikeys, amper asof hulle fut uit was ná die skokkende begin. Die Tigers het in elke fase die balbesit oorheers.
In die tweede helfte, nadat die uitslag klaar beklink is, het die Shimlas ’n bietjie eer teruggewen met nog drie drieë, waarvan twee met bewegings uit hulle eie halfgebied begin is en volgens Varsity-beker-reëls sewe punte elk werd was.
Die Ikeys was beter daaraan toe, met nog vier drieë, dus nege altesaam.
Die Arende is die gunstelinge vir die eindstryd ná ’n uitstekende seisoen, maar die Tigers het in die laaste twee wedstryde spoed opgetel en ’n allemintige 144 punte opgestapel.
In die foto hierbo: Shimlas lê oor die veld gesaai en Lezaine Davis zoem doellyn toe
Fotobron: Twitter