Afrika-atlete se woema kom van kougom en ys

Deur Razeen Gutta

Van dieëte tot geestesgesondheid, visualiserings en ysbaddens. Dit is hoe Afrika se sportsterre bo bly.

In BBC Sport Africa het ’n klompie van die kontinent se toppresteerders hulle ongewone wenresepte met kykers gedeel. 

Oumar Sissoko, wat vir Mali sokker speel, sê voedselaanvullings hou hom dwarsdeur sy dekade-lange loopbaan topfiks.

“Ek neem proteïne-aanvullings en drink energiedrankies. Energie-kougom help ook, en ek maak seker ek kry genoeg vloeistof in,” het hy gesê. 

“Ek skat dit gee my ’n hupstoot van tussen 30 en 40%. Ek behou en verbeter my fiksheid en herstel vinniger. Alles wat ek neem is natuurlik en wettig.”

Marokkaans-gebore skopbokser Karim Ghaiji gebruik water om sy gewig in toom te hou, en die ysskaatser Mae-Berenice Meite volg “buigsame” eetgewoontes.

“Dis vir mense wat gewoonlik van plantprodukte leef, maar wel af en toe vis of vleis eet,” het Meite aan BBC Sport Africa gesê.

Judo-ster Asmaa Niang sê sy steun op drie hulpmiddels: die regte asemhaling, denkwyse en ysbaddens.

“Ek neem koue storte soggens en saans, en twee of drie maal per week neem ek ’n ysbad tussen nul en vyf grade.”

Meddy Elice, wat Frankryk in skerm by die Olimpiese Spele wil verteenwoordig, is afkomstig van die Karibiese eiland Guadeloupe. Hy gebruik visualisering om op en wakker te bly. 

“Ek ervaar die sensasies wat ek onder my voete voel, die reuke, die emosies en alles wat in daardie oomblik saamkom.

“Dit help dat ek ’n situasie beter lees, asof dit al voorheen gebeur het.

“Wanneer ek visualiseringsessies herhaal, kan ek sekere sleutelwoorde anker. En sekere sensasies… dit maak dit makliker om die beste uit myself na vore te bring.”

In die foto hierbo: Asmaa Niang met die Marokkaanse vlag

Fotobron: @judocasa