Deur Suzanne Schubert
Lasagne in Macassar? Vir seker!
Maar daar het nie ’n nuwe Italiaanse eetplek oopgemaak nie. Dis Lezaine “Lasagne” Davis, ’n blits in die Ikey Tigers se agterlyn en een van die hoofgeregte in vanmiddag se Varsitybeker-halfeind teen die Shimlas in Bloemfontein.
Die Shimlas moet hulle keer ken: @lez_ltd – soos jy hom op sosiale media sal vind – is laasweek van die bank af as impakspeler ingespan teen Central University of Technology (CUT), en is twee keer oor die doellyn – sensasioneel!
Terwyl die span se poster boy sy “brand” bou, koester hy groter drome – om die Universiteite-Wêreldbeker omhoog te hou.
Dis die Tigers se vernaamste sending van die jaar. Hulle is sedert 2015 die kampioen – die toernooi vind elke vierde jaar plaas – en mik hierdie jaar na ’n driekuns.
Die Universiteite-Wêreldbeker word in Frankryk gespeel, net voordat die Springbokke die Wêreldbeker daar verdedig.
Hou ook vandag ’n ogie oop vir die Duran “R2” Koevort en Rihaz “Razzle Dazzle” Fredericks, koel kat met sy pienk shades, in die Tigers se agterlyn.
In die game teen CUT het Razzle Dazzle vir ’n “Damian Willemse”-drie langs die hoekvlag oorgeduik – gevlieg is eintlik ’n beter beskrywing – die ene arms en bene!
Check hulle uit, vanmiddag halfvyf op SuperSport.
In die foto hierbo: Lezaine “Lasagne” Davis, een van die Ikeys se troefkaarte teen die Shimlas in Bloemfontein vanmiddag
Fotobron: Facebook