‘Skadelike’ babapoeier bly op rakke in SA

Deur Nadine Theron

Johnson & Johnson se omstrede babapoeier – wat moontlik kanker veroorsaak – sal op Suid-Afrika se rakke bly totdat die hele voorraad uitverkoop is.

Dis nou ten spyte daarvan dat die multinasionale maatskappy verlede jaar gesê het die poeier sal in 2023 wêreldwyd vervang word met poeier wat mielieblom in plaas van talk bevat.

In Amerika verkoop J&J al van 2020 af nie meer die babapoeier nie omdat derduisende Amerikaners die maatskappy hof toe gesleep het daaroor.

Meer as 60 000 Amerikaners en Kanadese beweer die talk in die babapoeier het hulle kanker gegee.

J&J het Dinsdag hierdie hofsake met ’n uitbetaling van $8.9 miljard geskik, wat die maatskappy oor ’n tydperk van 25 jaar gaan betaal.

’n Diepte-ondersoek deur die nuusagentskap Reuters wys dat J&J al in die sewentigerjare geweet het dat daar asbes in die babapoeier is. Die produk word al van 1894 af verkoop.

Maar J&J hou vol dat daar nie genoeg wetenskaplike bewyse is dat die talk in die poeier asbes bevat wat kanker kan veroorsaak nie.

In ’n verklaring sê J&J: “Ons Johnson’s Babapoeier is veilig, bevat nie asbes nie, en veroorsaak nie kanker nie.”

J&J verskaf steeds hierdie poeier aan die meeste Suid-Afrikaanse winkels, wat dit aanhou verkoop. Maar selfs al sou groot winkelgroepe die poeier van die rakke verwyder, kan dit daarna in spazashops en ander klein winkels, wat nie van die gevaar weet nie, verkoop word.

J&J kan nie sê hoeveel van die babapoeier-houers nog in Suid-Afrika oor is, of wanneer hulle gaan ophou om dit plaaslik te vervaardig nie. 

Dit kan nog vir jare aan onbewuste ma’s verkoop word wat dit graag op hulle baba’s gebruik.

Volgens Statistiek Suid-Afrika se jongste syfers het kankersterftes tussen 2008 en 2019 met amper 30% vermeerder – en meer vroue as mans het in daardie tydperk aan kanker gesterf.

Daar was ’n toename van meer as 50% servikale kankersterftes onder Suid-Afrikaanse vroue, vergeleke met die vorige dekade. En in 2018 alleen het 3 994 vroue daaraan gesterf.

In die foto hierbo: J&J se omstrede babapoeier

Fotobron: Twitter