Maga Messias flous sy dissipels

Wie sou kon dink daar is oreenkomste tusssen Jesus en Donald Trump?

Jesus het immers nooit ’n porn-ster sjoesjgeld betaal nie.

Maar ’n koor van Trump se volgelinge het ’n verband gevind tussen die Messias en die eerste Amerikaanse president wat krimineel vervolg word, veral omdat hy tydens Heilige Week in die hof verskyn het.

Trump word daarvan beskuldig dat hy 34 dokumente vervals het om geheime betalings aan ’n porn-ster, Stormy Daniels, met wie hy in ’n verhouding was, toe te smeer.

“Lyk of iemand anders ook hierdie week gemartel en gekruisig is,” lui ’n inskrywing op Gab, ’n sosiale media-platform wat gewild is in Trump se “Make America Great Again” (Maga) kultus.

’n Inskrywing op Telegram waarsku teen die apokolips wat kom: “Die Goeie teen die Bose. Bybelse tye. Hemelse tydsberekening.”

Een van Trump se luidrugtigste ondersteuners, Kongreslid Marjorie Taylor Greene, het gesê hy het hom “aangesluit by die geledere van mense wat in hegtenis geneem is deur radikale, korrupte regerings.

“Nelson Mandela is gearresteer en opgesluit. Jesus is gearresteer en deur die Romeinse regering vermoor,” het sy gesê.

Die media-ontledingsmaatskappy Zignal Labs het gesê vergelykings tussen Trump en Jesus was een van die gewildste aanlyn-onderwerpe van die week.

Trump se lojaalste navolgers is die wit evangeliese Christenbeweging, en baie van hulle verafgod hom asof hy die wederkoms verbeeld.

’n Prominente swart partoor, Biskop Talbert Swan, het teruggekap: “As julle glo hy is soos Jesus, hang hom aan ’n kruis en kyk of hy oor drie dae opstaan.”

Illustrasie: Jon McNaughton se uitbeelding van Trump in gebed

Bron: Twitter