Deur Lucky Maree
Saterdag draf die Blitsbokke op die veld as negende-gekeurdes in die HSBC Singapoer-Sewesreek – en dit is waar hulle hoort.
Hulle beleef helder oomblikke, maar het bitter lank laas ’n reeks wenvertonings in ’n ry gelewer
Voor die toernooi het die spelers en die afrigter, Sandile Ngcobo, alles gesê wat van hulle verwag word. Hulle verwag om “veel beter te vaar”, hulle “het aan swakplekke geskaaf”, en hulle is gereed om hierdie naweek in Singapoer “foute reg te stel”
Hulle sê hulle wil die vorm herwin wat hulle ná die Covid-onderbreking by die Wêreldreeks ten toon gestel het. Die harde waarheid is dat Nieu-Seeland, Fiji en Samoa nie daar was nie. Daar was net een pad, en dit was ondertoe.
Daar is meer as een rede maar een daarvan is onmiskenbaar. Die Blitsbokke is te klein.
Nieu-Seeland het nege spelers wat meer as 90 kg weeg en nie een onder 80kg nie. Amanaki Nicole en Sam Dickson weeg albei 100kg.
Fiji het vyf spelers swaarder as 90 kg en twee onder 80kg. Josua Vakurinabili weeg 112 kg.
Die Blitsbokke het vyf swaarder as 90kg en vier ligter as 80kg. Zain Davids weeg 100kg. Shilton van Wyk, Dalvon Blood en Selvyn Davids haal net-net 75kg. Jaiden Baron weeg 72kg
In die bokswêreld sê hulle mos: ’n goeie grote sal ’n goeie kleintjie klop.
In sewes moet die Suid-Afrikaanse spelers altyd groter teenstanders aandurf. G’n wonder hulle kry seer nie!
Sewesrugby is uiters belangrik vir Suid-Afrikaanse sport, aangesien dit een van min items is waarin Suid-Afrika teoreties in Augustus aanstaande jaar ’n Olimpiese medalje kan wen. Dis nou as hulle vir die spele kwalifiseer, en moenie jou asem ophou nie.
In die foto hierbo: Die Blitsbokke
Fotobron: Blitzboks