Deur Nadine Theron
Die Tradisionele Genesersorganisasie (THO) is dringend op soek na ’n leerder van Khayelitsha waarteen daar glo gediskrimineer is omdat sy geroep is.
Die meisie, wie se naam weerhou word, het verlede week ’n hulpkreet na die uitvoerende hoof van die organisasie, Masechaba Sedibana, op Facebook uitgestuur en laat weet dat sy en ander studente wat vir tradisionele genesing opgelei word, deur hulle skool huis toe gestuur is.
Sy was duidelik ontsteld.
Die leerders is huis toe gestuur omdat hulle krale skool toe gedra het wat deel is van hulle opleiding as genesers – maar nie by die skoolreëls oor kleredrag inskakel nie.
Hierna het die meisie “verdwyn” en antwoord nie boodskappe op Facebook nie.
Die organisasie se verteenwoordigers in Khayelitsha se soektog na haar het nog geen leidrade opgelewer nie. Hulle is desperaat om haar te vind. Verlede jaar het ‘n jong vrou wat geroep is in die Oos-Kaap haar eie lewe geneem omdat sy ’n “heks” genoem is.
Sedibane sê lede van die organisasie weet nie eers in watter skool die meisie van Khayelitsha is nie.
Baie vroue word reeds as tieners geroep, en diskriminasie by skole is ’n groot probleem.
Die THO bespreek die probleem tans met die departement van onderwys. Hulle wil die kind in Khayelitsha dringend opspoor om haar te help en met die skool te vergader.
“Die Kaap is uiters ongunstig teenoor jong tradisionele genesers,” sê Sedibane.
“Baie gemeenskappe en skole verstaan nie die roeping nie en dink hierdie vroue is besete.”
Dis ’n landwye probleem. Na een so ’n geleentheid in Bloemfontein het onderwysers vir Sedibane om hulp gevra oor die hantering van geroepe leerders, en hoe om te identifiseer watter kinders net skoolaktiwiteite wil ontwrig, en watter leerders waarlik geroep is.
Die organisasie bepleit oor die algemeen onderrig oor tradisionele genesing en wil skole besoek om bewusmaking te skep.
“Dit is diskriminasie op grond van geloof. Leerders wat geroep is moet nes ander leerders van verskillende geloofsoortuigings in skole geakkommodeer word,” sê Sedibane.
Sy vergader Woensdag met die Kommissie vir Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkunduge Gemeenskappe (CRL) hieroor.
Op die foto hierbo: Tradisionele genesers tydens opleiding
Fotobron: Verskaf