Baardbek kan jou groot geld kos in skoongeskeerde Chaudhary

In Indië word ‘n lang en dik baard dikwels gesien as teken van wysheid, maar een dorpie het besluit hulle gaan nie langer hierdie gedagte voorstaan nie.

Enige jong man met ‘n “modieuse” baard in die Chaudhary-gemeenskap, wat bestaan ​​uit 54 dorpies in Banaskantha, Gujarat, kan ‘n boete van R12,000 opgelê word.

Die dorpie het ook ‘n verbod geplaas op die koop en sny van verjaarsdagkoeke tydens vieringe. Niemand hou meer partytjies nie, want die huur van spyseniers en platejoggies is ook verbied.

Die ouer mense in die dorpie het verduidelik dat die stap geneem is ter bewaring van kultuur in die gebied, waar die mans verkieslik skoongeskeer moet wees, het The Times berig.

“Ons het besluit om baardgroei te verbied aangesien die jeugdiges nou baarde begin dra het en ‘n mens nie meer weet of hulle van Chaudhary afkomstig is of te nie.

“Skoongeskeerdes is die identiteit van ons gemeenskap,” het ‘n plaaslike leier, Raymalbhai Chaudhary, aan The Indian Express gesê.

Die verbod op vieringe is, andersyds, ‘n ekonomiese besluit, het Chaudhary verduidelik.

Hy het bygevoeg dat gemeenskapslede dikwels koeke koop en DJ’s huur sonder die nodige fondse om daarvoor te betaal. Hulle doen dit net ter wille van ander mense.

Nog ‘n verbod met finansiële oorwegings, is op die gebruik om opium te rook nadat iemand gesterf het.

“Daar is ‘n tradisie van opiumverbruik tydens doodsverwante seremonies in ons gemeenskap. Ons wil dit beëindig, want dit plaas groot geldelike las op arm mense en dis boonop onwettig,” het Chaudhary gesê.

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

Op die foto hierbo: ‘n Indiese man met ‘n indrukwekkende baard