Uganda se wet teen LGBTQI+ is onnosel, sê Malema

Deur Karabo Rammutla

Die wet teen homoseksualiteit wat deur die Ugandese regering opgetrek is, gaan teen menseregte in, sê die EFF-leier, Julius Malema. Hy noem die wet “onnosel”.

Malema het Dinsdag ’n opmars in Tswane gelei in teenstand met die wet. Honderde EFF-ondersteunrs en LGBTQI+ aktiviste van Uganda het van Magnolia Park na die Ugandese Hoër-Kommissie in Pretoria gestap.

“Ons is hier om aan [President Yoweri] Museveni te sê, terwyl die LGBTQI+ gemeenskap in Uganda nie vry is nie, is ons nie vry nie. Die pyn van die mense in Uganda is ons pyn,” het Malema gesê.

Die Ugandese parlement het verlede maand eenparig ’n wet goedgekeur waarin homoseksualiteit tot tronkstraf of selfs die dood gevonnis kan word. President Museveni moet dit net bekragtig.

Malema het gesê hulle is by die kommissie om op te staan teen moord.

“As Museveni weet wat goed is vir hom, sal hy dit nie doen nie. Hy is dalk gay, en sal later uitkom,” het Malema gesê.

Hy het gesê die wet sal teen politieke teenstanders gebruik word, en mense met politieke konneksies sal vervolging vryspring. “Die wet is teen armes gemik,” het hy gesê.

’n Nie-binêre Ugandese aktivis, Papa De, het aan betogers vertel hoe swaar sy al gely het omdat sy queer is.

“Ek is ’n fotojoernalis en universiteitstudent, en ek moes my studies laat vaar omdat ek vervolg is. Ek is geslaan en inhegtenis geneem omdat ek ek is,” het Papa De gesê.

“Hoe lank kan mens wegkruip sonder ’n inkomste?” het sy gevra. “Ons mense word gejag asof ons diere is. Ons word verkrag. Hoekom kan ons nie wees wie ons is nie, seks hê met wie ons wil nie?”

Majoor Generaal Fred Ociti Tolit, ’n lid van die Uganda People’s Defence Force, het die EFF se memorandum ontvang en onderneem om dit aan die betrokke owerhede te besorg. 

In die foto hierbo: Die EFF se Julius Malema het die Ugandese President, Yoweri Museveni, gevra om nie die wet teen homoseksualiteit te bekragtig nie

Fotobron: Karabo Rammutla