Tjoekie wag op dwars motoriste

Deur Everson Luhanga

’n Strawwe padblokkade in Johannesburg wat vyf ure geduur het, het Dinsdag die regering se pogings ingelui om die slagting op die land se paaie hierdie Paasnaweek in toom te hou.

Die stad doen mee aan die Safer Easter Weekend-projek, en die burgemeester, 

Thapelo Amad, en die lid van die munisipale raad vir openbare veiligheid, Mgcini Tshwaku, het dit Dinsdag amptelik in Sandton geopen.

’n Padblokkade op die besige R55 wat Alexandra, Sandton, Tembisa, Diepsloot en die omliggende buurte met mekaar verbind, het volgens Tshwaku positiewe resultate opgelewer. 

Hy sê ’n klompie onpadwaardige voertuie is van die pad gehaal en motoriste wat die wet oortree het, is in hegtenis geneem. 

Een taxi-bestuurder wat by die padblokkade vasgetrek is, het die wet op ses verskillende maniere oortree.

Hy het nie ’n rybewys gehad nie, en sy voertuig was ongelisensiëerd. Verder het die taxi nie ’n handrem gehad nie, die vensters kon nie oop- en toemaak nie, en daar was 18 passasiers, al was daar net 15 sitplekke.

Die voertuig is van die pad gehaal. Al 18 passasiers was gestrand en het meer as ’n uur lank gewag dat daar ’n ander taxi verbykom, wat nooit gebeur het nie.

Uiteindelik is hulle in ’n minibus van die metro-polisie na hulle bestemming geneem.

Tshwaku het gesê hulle het ligging vir die padblokkade gekies omdat dit soveel roetes in die stad met mekaar verbind, en omdat die verkeer daar altyd swaar is.

Hy het gesê hulle ander bedrywighede sluit deursoek-en-inbeslagneming, misdaadbestryding en wetstoepassing in. “Ons versoek dat motoriste hulle verkeersboetes betaal en die stad se verordeninge gehoorsaam,” het hy gesê.

Soortgelyke veldtogte vind elders in die land ook plaas.

Tshwane se Metropolisie-afdeling se Paasfees-projek skop vandag (Woensdag) by die N1 Carousel Plaza af.

Die afdeling se segspersoon, Superintendent Isaac Mahamba, het gesê die fokus van hulle drie projekte is om die ongeluk- en dodesyfer en verkeersoortredings af te bring. 

Hulle spanne sal die bevoegheid van motoriste en die padwaardigheid van hulle voertuie ondersoek, spoedlokvalle stel, en motoriste vasvat wat dronk bestuur en ander oortredings begaan.

Ander provinsies wat meedoen is Limpopo, waar Suid-Afrika se grootste Christelike saamtrek plaasvind, en KwaZulu-Natal, waarheen vakansiegangers optrek.

In die foto hierbo: Johannesburg se burgemeester, Thapelo Amad, en die Lid van die Munisipale Raad vir openbare veiligheid, Mgcini Tshwaku, stel die Safer Easter Weekend-veldtog in Sandton bekend

Fotobron: Everson Luhanga