Na ‘n gaping van meer as 50 jaar gaan die Amerikaanse ruimte-agentskap Nasa ‘n nuwe span ruimtevaarders op historiese wyse maan toe stuur.
Christina Koch sal die eerste vroulike ruimtevaarder word wat ooit vir ‘n maansending verkies is, en Victor Glover die eerste swart ruimtevaarder op so ‘n sending.
Hulle sal saam met Reid Wiseman en Jeremy Hansen die ruimtereis aanpak, óf volgende jaar óf vroeg in 2025.
Die ruimtevaarders gaan nie op die maan land nie, maar hul missie is om te verseker dat ‘n toekomstige span dit wel sal kan doen.
Die drie Amerikaanse burgers en een Kanadees is vandeesweek aan die publiek voorgestel tydens ‘n seremonie in Texas.
Die bemanning van vier sal nou intensiewe opleiding ondergaan om vir die sending voor te berei.
Alle vorige maansendings het slegs blanke mans ingesluit.
Nasa het lank reeds groter diversiteit in sy ruimtemissies belowe. Deur ‘n vrou en ‘n anderskleurige persoon te kies, sal hulle dit dalk net bereik.
“Die Artemis-2-span verteenwoordig duisende mense wat onvermoeid werk om ons nader aan die sterre te bring. Dit is hul bemanning, dit is ons bemanning, dit is die mensdom se bemanning,” het Nasa-administrateur Bill Nelson aan BBC gesê.
Die span volg in die spore van die 1968-sending van Apollo 8 – die eerste menslike ruimtevlug wat die maan bereik het.
“Ons moet hierdie oomblik in die menslike geskiedenis vier, want Artemis-2 is meer as net ‘n maansending. Dit is meer as ‘n sending wat moet gebeur voordat ons weer mense na die maan se oppervlak toe stuur. Dit is die volgende stap op die reis wat die mensdom Mars toe sal neem,” het ruimtevaarder Victor Glover by die seremonie gesê.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Op die foto hierbo: Die bemanning wat maan se kant toe staan
Fotobron: Nasa