Dag na koelbloedige moord van gade skiet Gqeberha man homself

Deur Anita Dangazele

Na ‘n lang dag by die werk kon Carol-Ann Magielies nie wag om tuis te kom en te rus nie.

Sy het Sondagaand skuins na sewe by die deure van Life St George’s Hospitaal in Gqeberha uitgestap. Dit sou haar laaste treë wees.

Magielies, ‘n 49-jarige ontvangsdame by die hospitaal, was op die punt om in haar voertuig te klim toe die verdagte haar opsy geneem het. Hy het vyf skote op haar afgevuur voordat hy hom uit die voete gemaak het.

Polisie-ondersoeke het die skut geïdentifiseer as 51-jarige Elgin Maghienda, haar eks-kêrel.

Magielies is teruggeneem na die hospitaal, waar sy oomblikke later gesterf het omring deur van haar kollegas.

Familielede het Magielies beskryf as ‘n liefdevolle ma wat ‘n uiters hegte verhouding gehad het met haar twee dogters, wat albei in Pretoria woon.

Terwyl die Magielies-gesin gehoop het geregtigheid sou seëvier, het gebeure vinnig ‘n ander draai gevat.

Die polisie is Maandag uitgeroep na ‘n hut tussen die duine langs Marinerylaan, naby die Nelson Mandela Universiteit natuurreservaat, waar Maghienda se lewelose liggaam met ‘n geweer langs hom gelê het. Die verdagte het glo selfmoord gepleeg.

Polisiewoordvoerder Sandra Janse van Rensburg het gesê die polisie is bewus gemaak van ‘n vermoedelike selfmoord op Marinerylaan.

“Mense wat in ‘n hut tussen die duine woon, het Sondagaand laat ‘n man opgemerk wat in Marinerylaan afgestap het.

“Hulle het hom blyplek aangebied en hy het by hulle oornag,” het Janse van Rensburg gesê.

Maandagoggend het die krot se bewoners vertrek om ‘n nabygeleë eiendom te besoek waar hulle gewoonlik hul fone laai.

Maghienda het toe nog in die shack geslaap.

Met hul terugkeer by die huis het hulle egter op sy lyk afgekom nadat hy homself glo geskiet het. Die vuurwapen is op die toneel gevind.

Lede van Maghienda se familie is na die toneel ontbied om die lyk te identifiseer.

Janse van Rensburg het gesê geen gemene spel word in sy dood vermoed nie en die vuurwapen is gestuur vir ballistiese toetse.

Op die foto hierbo: Illustrasiefoto

Fotobron: SAPD