In Japan kan jy ’n noot, of eerder ’n hele paar note, R300 om presies te wees, by ’n masjien invoer, en beervleis val onder uit, soos ’n wafferse tjoklit of hoofpynpille.
Die masjien is in een van die besigste treinstasies in die stad Semboku. Die vleis kom van bere wat plaaslik geslag is, berig Insider.
Op die masjien is daar reklametekens aangebring wat lui: “24 uur oop,” “Swartbeer,” “Beervleis” en “2 200 yen vir 250 gram.”
Die bere word deur ’n plaaslike jagklub geskiet.
Die masjien is ’n afsetpunt vir Soba Goro restaurant by die Tazawako sneltreinstasie. Die idee is om die beervleis as ’n aandenking aan die stasie te verkoop.
“Beervleis smaak skoon, dit word nie taai nie, selfs nie wanneer dit koud word nie,” het ’n verteenwoordiger van Soba Goro gesê.
“Dit kan in verskeie disse voorgesit word, van bredie tot steak.”
Operateurs sê hulle verkoop tussen 10 en 15 pakke beervleis per week maar die beskikbaarheid berus op die jagseisoen.
Beervleis is nie die enigste eksotiese dis wat by een van dié masjiene te koop aangebied word nie. In Januarie vanjaar het ’n ander maatskappy drie masjiene met walvisvleis vrygestel.
In Tokio is daar masjiene met walvis-sashimi, walvis-spek, walvisvel en walvis-steak.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
In die foto hierbo: ’n Beer wat dalk in ’n bord gaan beland