Deur Khaya Ndaba
Met hul unieke Afro-psigedeliese, futuristiese popklank speel Bantu Continua Uhuru Consciousness, beter bekend as BCUC, nou al vir 20 jaar lank die planke aan die brand.
Diep gewortel in Soweto vermaak die musikante hul aanhangers met die vuvuzela, dreunsang, bastromme, congas en stemwerk in verskeie Suid-Afrikaanse tale, wat gehore laat hyg vir meer.
Ten spyte van die uitdagings wat tydens die Covid-19-inperking ervaar is, het die groep daarin geslaag om te repeteer en nuwe liedjies te vervaardig wat nou deel is van hul onlangs vrygestelde album, Millions of Us, onder die vaandel van Londense platemaatskappy On The Corner.
Die album is deel van hul 20ste bestaansjaarvieringe, en sal verdere blootstelling ontvang tydens komende optredes.
BCUC se sukses het nie in hul skoot geval nie, maar het wel ‘n stywe hupstoot gekry toe hulle in 2016 by die Transmusicales-fees in Frankryk opgetree het. Hul vertoning het 4,000 mense in verwondering gelaat oor hul unieke talent.
Hoofsanger Kgomotso Mokone het gesê voordat BCUC tot stand gebring is, was dit eintlik net ‘n groep vriende wat soortgelyke ideologieë en belangstelling in verskeie kunsvorme gedeel het.
Die groep is verwek toe Jovi en Cheex by hul plaaslike kunssentrum in Soweto ontmoet en saam begin speel het. Uiteindelik het ander lede aangesluit en verskillende elemente by die oorspronklike klank gevoeg.
BCUC se klank het aanhangers wêreldwyd gelok, en hulle het al op talle verhoë in Suid-Afrika en oorsee opgetree, soos Fete de Musica, ACCES Africa en Basha Uhuru.
Die groep se onlangse optrede by die Constitution Hill Menseregtefees op 25 Maart het hul uitstekende talent ten toon gestel en bewys dat daar geen keer aan hul momentum is nie.
Terwyl BCUC hul 20ste bestaansjaar en ‘n nuwe albumvrystelling vier, gaan hulle voort om aanhangers te inspireer met onwrikbare passie vir hul musiek.
Op die foto hierbo: BCUC
Fotobron: Verskaf