Deur Christelle Scheepers
Ashley Rose-Innes van die Loones For Love Fundraising Initiative se droom om na behoeftige kinders om te sien het na ses jaar waar geword toe sy vir die eerste keer aan ’n kind ’n geborge vesting kon bied, maar haar vernaamste sending is om kinders in hulle eie ouerhuise te help.
In gesprek met ouers wat hulle kinders na Ashley toe inbring, het sy gevind almal doen dit teen hulle sin. Dis toe dat sy Loones For Love Fundraising Initiative gestig het.
“Ons help om in die families se basiese behoeftes te voorsien. Al is dit kruideniersware of
vervoergeld na werkonderonderhoude doen ons wat ons kan om kinders uit die welsynstelsel te hou,” vertel Ashley.
Sy doen al meer as 10 jaar lank vrywillige gemeenskapwerk, wat op skool begin het, toe sy by ’n kinderhuis gehelp het. Dis toe sy besef het dat basiese benodigdhede nie aan ’n kind se behoeftes voldoen nie.
“Die hele stelsel laat veel te wense oor. Almal probeer hul bes om die kinders te help, maar die
aantal nuwe kinders wat die stelsel binnegaan, is eenvoudig te veel.”
“Dit het my en my gesin ses jaar geneem om ’n punt te bereik waar ons gevoel het ons is gereed om eerste kindjie huis toe te bring,” sê Ashley.
As gevolg van die traumas wat die kinders ervaar het in hul lewens het hul amper altyd
emosionele probleme waarna omgesien moet word.
“Sommige babas huil aanhoudend, ander kan glad nie huil nie, want hulle het reeds besef niemand reageer daarop nie. Dis moeilik om hulle vertroue te wen,” vertel sy.
“Met babas jonger as ses maande wat traumas ervaar het, neem dit soms tot ses weke. Met ouer babas kan dit so lank as twaalf weke neem.”
In die foto hierbo: Ashley Rose-Innes se helpende hand
Fotobron: Verskaf