Deur Dalphine Tagwireyi
Terwyl waterbronne in Hwange Nasionale Park aan’t opdroog is, sak dorstige wilde diere soos leeus, olifante en hiënas toe op die Zimbabwiese dorpie.
Nou leef inwoners van Hwange in vrees terwyl die gevaarlike diere die dorp platloop op soek na water en kos.
Konflikte tussen mens en dier vier hoogty in die steenkoolmyndorp in Matabeleland-Noord, as gevolg van waterskaarstes in Hwange Nasionale Park en nabygeleë myne.
Tatenda Kamushinda, wat ‘n voorlaaier vir die Zian Zhong-steenkoolmynmaatskappy bedryf, het aan Scrolla.Africa gesê dit is nie meer veilig om alleen rond te loop nie, want die diere is altyd in die nabyheid.
“Ons is ook aangesê om op die uitkyk te wees wanneer ons by die werk is, want diere soos olifante kan jou selfs aanval terwyl jy ‘n groot masjien soos myne bestuur. So, ek weet nie wat presies gedoen moet word nie, maar mense se lewens is in gevaar,” het hy gesê.
Greater Whange Residents Trust voorsitter Fidelis Chima het gesê dat steenkoolmynaktiwiteite die wilde diere se natuurlike habitat by Hwange Nasionale Park versteur.
“Waterbronne in die nasionale park is ook besig om op te droog weens klimaatsverandering, en dit dryf wilde diere soos olifante om menslike nedersettings binne te dring op soek na water. Nog daarby is dit oesseisoen,” het Chima gesê.
Die Hwange Colliery Company Limited (HCCL) het sy werkers, inwoners en motoriste gewaarsku om bedag te wees op wild, hoofsaaklik in die Chaba, South Hill en JKL-gebiede, aangesien die nabyheid aan Hwange Nasionale Park die kans van interaksies tussen mens en dier verhoog.
“Wees op die uitkyk vir rondloperleeus en hiënas wat rondom Chaba en Pits opgemerk is en vermy onnodige beweging in hoërisikogebiede. Moenie alleen rondloop in geïdentifiseerde hoërisikogebiede of die diere uitlok nie,” het die HCCL in ‘n verklaring gesê.
In November 2022 het die regering ‘n Mens-Wild-konflikfonds bewillig om gesinne en oorlewendes van dieraanvalle te vergoed, asook om voorkomende maatreëls te finansier, soos om water aan wildtuine te voorsien en weiveld te verbeter.
Tussen 2021 en 2022 het 68 mense gesterf as gevolg van aanvalle deur wilde diere regoor Zimbabwe.
Die Zimbabwe Parke- en Natuurlewebestuursowerheid het hierdie sterftes toegeskryf aan die land se groeiende menslike bevolking wat lei tot wedywering oor water en kos met wilde diere.
Op die foto hierbo: ‘n Trop leeus wat water drink
Fotobron: Zimbabwe Parke- en Natuurlewebestuursowerheid