Tiener Tumi snel oor die wenstreep

Deur Thathe Msimango

Tumi Ramokgopa is vinnig besig om haarself as een van Suid-Afrika se beste baanatlete te vestig, danksy ’n reeks skittervertonings by die onlangse SA Junior Kampioenskappe in Pietermaritzburg.

Die 16-jarige naelloper het twee nasionale titels opgeraap deur die 100m hekkies in ’n skroeiende tyd van 13.53 sekondes af te blits, en daarna die 400m hekkies-kroon in 59.26 sekondes op te eis.

Ramokgopa, wat vir Atletiek Gauteng-Noord deelneem en aan Prestige College studeer, het haarself met haar vertonings verras. 

Sy het aan Scrolla.Africa gesê sy het geglo sy sal die 100m hekkies wen, maar die 400m titel was ’n onverwagte bonus. 

“Hierdie vertonings gee my selfvertroue ’n hupstoot. Ek het baie hard daarvoor gewerk.”

Ná haar groot welslae op juniorvlak wag daar dié week ’n groter uitdaging op Ramokgopa,

wanneer sy aan die Senior Baan- en Veldkampioenskappe in Potchefstroom, Noordwes, deelneem.

She het Donderdag derde in die uitdunne van die 100m hekkies geëindig, en nou is haar visier op Saterdag se eindwedloop.

“As ek Saterdag die podium kan haal, sal ek tevrede wees,” het sy gesê.

Ramokgopa vertrou in haar vermoë om op seniorvlak suksesvol te wees, maar besef hoeveel moeiliker dit is.

“Dis heeltemal anders, maar ek dink gesonde kompetisie kan my vinniger laat hardloop,”

het sy gesê.

“Dis iets wat ek verwelkom. Ek moet aanhou verbeter as ek erken wil word as een van

die beste atlete in die land.”

Ramokgopa, wat deur die legendariese George Bradley afgerig word, is gefokus om haar tye

te verbeter en in die toekoms nog baie medaljes in te oes. 

Met haar talent en vasbeslotenheid, gaan dié jong ster die baan vorentoe helder verlig.

In die foto hierbo: Tumi Romokgopa

Fotobron: Hoërskool Menlopark