‘n Nederlandse man wat reeds 550 kinders verwek het deur spermskenking word nou met regstappe gedreig op grond daarvan dat hy die risiko van bloedskande opjaag.
Jonathan Jacob Meijer, ‘n musikant van Den Haag, word gedagvaar deur die ma van een van sy menige nasate, asook ‘n Nederlandse organisasie vir kinders verwek deur geskenkte sperm.
Dit mag ‘n maklike manier wees om ekstra geld te maak, maar Meijer het die drumpel van sy plaaslike kliniek behoorlik deurgetrap.
Die wesenlike vrees is, met soveel kinders wat dieselfde pa deel, daar ‘n goeie kans bestaan dat van hulle mekaar mag ontmoet en verlief raak, onbewus van hul bloedverbintenis.
Die musikant woon nou in Kenia sedert hy op ‘n swartlys geplaas is vir spermskenking, ná ‘n New York Times-ondersoek.
Maar daar was geen keer aan Meijer se vrygewigheid nie. Hy het glo sy saadsaai-manewales ook in Denemarke en Oekraïne uitgehaal, het Insider berig.
Nederlandse riglyne bepaal dat ‘n spermskenker slegs 25 kinders by 12 verskillende moeders mag verwek.
Hierdie reëls is geskep om “inteling” en bloedskande te voorkom, volgens die Nederlandse organisasie Donorkind.
‘n Ma, slegs bekend as Eva, het in 2018 ‘n kind gehad nadat sy Meijer se sperm gebruik het.
“As ek dink aan die gevolge wat dit vir my kind kan inhou, voel ek naar op die maag en onseker oor sy toekoms. Hoeveel kinders gaan nog bykom?” sy het gewonder.
Die regsgeding het ten doel om die musikant te verbied om enige verdere sperm te skenk, en om ‘n stokkie te steek voor alle kommunikasie met die kinders en hul ma’s.
Die regsgeding versoek ook dat enige van Meijer se sperm wat steeds in klinieke rondswem, tot niet gemaak word.
Dit is nog onduidelik of hy verbied gaan word om sy 550 kinders vir Kersete oor te nooi.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Op die foto hierbo: Spermskenkings