Geen paaie is meer veilig nie: 960 probeerslae later is Cha toe aan die stuur

Om ‘n rybewys te kry is geen maklike taak nie, en vir een Suid-Koreaanse vrou het dit R250,000 uit die sak gejaag.

Dit was nie omkopery of, soos Suid-Afrikaners dit noem, “koeldrankgeld” nie; dit was die prys wat sy betaal het om haar bestuurseksamen 960 keer af te lê.

Dit was voorwaar ‘n uitgerekte sage vir Cha Sa-Soon, wat in April 2005 vir die eerste keer probeer het om haar bestuurslisensie te bekom.

Sy was destyds omtrent vasberade. Sy het elke dag, vyf dae per week vir drie jaar aaneen probeer – en misluk – om die geskrewe toets te slaag.

Dis ‘n totaal van 780 pogings!

Sy het toe ‘n ander taktiek begin volg en die toets slegs twee keer per week afgelê. Toe sy uiteindelik geslaag het, kon sy voortbeur na die praktiese toets toe.

Die 69-jarige was duidelik baie beter met die praktiese sy van dinge en dit het haar slegs 10 probeerslae gevat om te slaag, berig The Mirror.

Cha het geweier om tou op te gooi omdat sy ‘n bestuurderslisensie benodig het vir haar besigheid, wat groente verkwansel.

Haar instrukteur by Jeonbuk Bestuurskool het gesê hy was verlig toe Cha Sa-soon uiteindelik haar rybewys gekry het.

“Ons was verheug vir haar! Ons het almal juigend uitgeloop, haar omhels en vir haar blomme gegee,” het hy gesê.

“Dit het gevoel soos ‘n yslike las van ons skouers af. Ons kon dit nie oor ons harte kry om vir haar te sê om op te hou nie, want sy het net aanhou opdaag.”

Die 960 pogings was die moeite werd, aangesien Cha nou beroemd is in Suid-Korea. Sy verskyn in ‘n Hyundai-advertensie en het ‘n splinternuwe motor persent gekry.

Haar storie het vandeesweek weer op sosialemediaplatforms verskyn ten spyte daarvan dat dit 15 jaar gelede gebeur het. Beter laat as nooit, soos Cha sekerlik sou sê.

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

Op die foto hierbo: Cha met haar persentmotor

Fotobron: Reddit