Deur Everson Luhanga
In ’n onverwagte wending in ’n moordsaak in Bethal se Landdroshof is ’n man wat hom as die verdagte se prokureur voorgedoen het as ’n bedrieër ontmasker.
Die Valke het sy agtergrond ondersoek en gevind dat hy nie enige regskwalifikasies het nie.
Doctor Sobetha, wat ook nie ’n dokter is nie, is verlede Vrydag, 24 Maart, in hegtenis geneem en het Maandag in die hof verskyn.
Ten tyde van sy inhegtenisneming het die kamma-prokureur ’n moordverdagte, Mhlabuyaxega Mntungwa, verteenwoordig. Dit was sy vierde hofoptrede in die saak.
Mntungwa word verbind met die moord op Nkosinathi Emmanuel Ngcongo, ’n bestuurder van die Sam Holdings-maatskappy, in 2019.
’n Segspersoon vir die Valke, Kaptein Dineo Lucy Sekgotodi, het gesê hulle het na die moord inligting ingewin dat Ngcongo deur twee mans geskiet is, wat daarna weggejaag het.
Phindokuhle Eugene Nkosi, ’n ander verdagte, is in hegtenis geneem en skuldig bevind aan diesefde moord. Hy is in Oktober 2020 tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.
Die polisie het destyds ’n foto van Mntungwa versprei as ’n verdagte in die moordsaak. Hy is op 1 February 2023 in KwaZulu Natal aangekeer.
Wat die prokureur-nabootser se motief was, en of hy gedink het hy kan die saak wen, bly onbekend.
Die Valke het in die hof toegeslaan, nadat Sobetha nie kon sê waar hy sy regsgraad verwerf het nie. Al wat hy as “bewysstukke” vir sy geldigheid kon wys, was die toga wat hy aangehad het en sy matrieksertifikaat.
Hy is opgesluit en die hof moes verdaag sodat die moordverdagte ’n ander regsverteenwoordiger kon vind.
Die speel-speel prokureur soek nou sy eie regsverteenwoordiger.
Die moordverdagte en sy “prokureur” bly in aanhouding. Albei sake is tot 3 April uitgestel vir verdere ondersoek.
In die foto hierbo: Kamma-prokureur Doctor Sobetha tydens sy hofverskyning
Fotobron: Deur Valke verskaf