Jong uitvinders se robot help oues en siekes met meds

Deur Thabisa Ndzindzwa

‘n Vier-sterk groep Oos-Kaapse skoliere het met ‘n baanbreek-idee vorendag gekom: die bou van ‘n robot wat medikasie uitdeel vir gestremdes en bejaardes.

Die vier graad-nege leerders van Zinyosini Senior Sekondêre Skool in die KwaBhaca platteland maak nou opslae in die wêreld van robotika.

Vuyisa Bhakadela, Emihle Mehlwana, Limi Micheal Nodali en Junior Lwandle Misindo het hul innoverende idee aan ‘n Nasionale Robotika-kompetisie voorgelê en deurgedring na die Top 20 uit 579 skole landwyd.

“Ons het miskien nie gewen nie, maar ons het die wêreld gewys waartoe leerders van landelike gebiede in staat is. Ons idee was oorspronklik, en nie net ‘n verbetering op iets wat reeds bestaan nie,” het hul mentor, Sinethemba Mvunvu, aan Scrolla.Africa gesê.

“Ek en my studente is oortuig dat hulle sou kon wen as die kompetisie grootliks van aanbieding afgehang het,” het Sinethemba gesê.

Hul robot is ontwerp om die gebruiker te herinner wanneer dit tyd is om medikasie te neem, die meds dan saam met water op te dis, en te help voorkom dat die gebruiker per ongeluk te veel pille sluk.

Die dryfveer vir hul skepping was om bejaardes en gestremdes in hul gemeenskap te help – diegene wat soms van hul medikasie vergeet, of dit per ongeluk twee keer neem.

Ten spyte daarvan dat hulle uit minder-bevoorregte huise kom, het die studente die beoordelaars beïndruk met hul unieke idee, en deel van die opwinding was hul vlug na Mpumalanga om hul robot bekend te stel.

Ongelukkig, weens hul gebrek aan toegang tot nabygeleë materiale wat in robotika gebruik word, moes hulle die robot in net een dag aanmekaarslaan, en dit het toe nie behoorlik gewerk nie.

Maar dit het hulle nie verhinder om hul baanbreek-idee aan te bied en hul passie vir robotika ten toon te stel nie.

Sinethemba sê die leerders se gebrek aan hulpbronne weens hul agtergeblewe agtergrond het hulle geen gunste gedoen nie.

“Alles anders was eksieperfeksie, behalwe dat die robot nie wou werk nie,” het Mvunvu gesê.

Die ervaring was egter ‘n draaipunt in die leerders se lewens, want hulle het waardevolle vaardighede geleer. Nog daarby het hul selfvertroue en aanbiedingsvermoëns ‘n hupstoot gekry.

Hulle verstaan nou tot hoe ‘n mate robotika mense se lewens kan verbeter.

Vuyisa Bhakadela sê sy is dankbaar vir die geleentheid en hoop om in die toekoms aan soortgelyke kompetisies deel te neem.

Op die foto hierbo: Zinyosini Senior Sekondêre Skool leerders in Mpumalanga saam met hul mentor, Mnr Mvumvu, en voormalige Mej SA Shudufhadzo Musida

Fotobron: Verskaf