Het die Proteas weer getjouk?

Deur Dezzi Lennox

Die Proteas was gisteraand op die Wanderers in Johannesburg ná 13 boulbeurte, op 139/2, flink op pad om die teiken van 220 in die derde T20i-wedstryd teen die Wes-Indiese eilande te jaag en die reeks te beklink.

En daar gebeur daar ’n bloedstollende ding, waaraan hulle fans maar al te gewoond is, in belangrike wedstryde wat hulle móét wen: hulle mojo verdamp.

Uiteindelik het hulle met sewe lopies verloor; ’n ses en ’n enkellopie. Of sewe enkellopies. Of… werk maar self uit.

Dit sou onregverdig teenoor die Windies wees om hulle sege geheel en al aan ’n goeie ou Proteas-tjouk toe te skryf. Hulle het die druk verwerk en goed geboul… maar op dáái blad, en met agt paaltjies in die bank, was alles in die Proteas se guns.

Behalwe daai verdekselse mojo, wat so ontydig verwelk. Die mojo waarmee hulle Sondag 258 kon jaag. Dié was van die 14de tot die 16de skoonveld. Pleks van die vereiste 12 lopies per beurt – wat hulle vroeër lag-lag kon bybring – is dit toe 9, 8, 6. Klink verdag baie na ’n tjouk.

Dis jammer dat Reeza Hendricks hierby ingesleep word. Hy verdien beter. Sy beurt (83 van 44 balle) was briljant… maar skielik sukkel hy om die bal van die kolfblad af te slaan, wat nog te sê oor die grens te help.

Met twee beurte oor moes die Proteas 36 aanteken. Nie onmoontlik op dié blad nie, maar Hendricks is met die eerste bal van die 18de uit, Heinrich Klaasen met die derde en Wayne Parnell met die vyfde – wat ook ’n skitterende Alzarri Joseph se vyfde paaltjie was.

Die 18 lopies wat Aiden Markram in die laaste beurt geklits, het gewys wat kón gewees het. Te laat, te laat.

Van tjouk gefluister: Kagiso Rabada se laaste boulbeurt het sy span 26 lopies gekos. Tjouk is só ’n lelike woord. Kom ons sê maar eerder al die mojo was dié keer aan die Windies se kant.

In die foto hierbo: Alzarri Joseph 

Fotobron: @windies