Deur Everson Luhanga
Polisie het die publiek gewaarsku om op die uitkyk te wees vir Facebook-swendelaars nadat een van hul beamptes vir ure as gyselaar aangehou is. Sy plan was om ‘n motor te koop, maar die advertensie is as slenter onthul.
Die beampte en sy vriendin is Saterdag in Winterveld, Tshwane, ontvoer voordat die beweerde swendelaars die polisieman se bankrekening van R39,000 verlos het.
Luitenant-kolonel Mavela Masondo, Gautengse provinsiale SAPD-woordvoerder, het gesê die polisie het ‘n saak van gewapende roof geopen en is op soek na die verdagtes.
Luitenant-kolonel Masondo het gesê die beampte het gereageer op ‘n Facebook-advertensie van ‘n motor te koop in Winterveld. Die paartjie het daarheen gery om die geadverteerde voertuig, ‘n Golf 1, te bekyk en dan moontlik aan te skaf.
Hy het gesê die verkoper het die beampte na ‘n plek in Winterveld beduie, waar die motor glo besigtig sou word. “Met hul aankoms het die beampte die verkoper gekontak en dié het hulle kom haal.”
Die verdagte het in die slagoffers se voertuig geklim en saam met hulle gery na ‘n plek waar die Golf 1 veronderstel was om te wees.
Toe hulle by die adres aankom was daar geen Golf in sig nie, en die beampte het besef daar is fout. Maar dit was te laat: die eiendom se hekke is agter hulle toegeslaan en mans het van nêrens verskyn, geskree, en hul gewere op die polisieman en sy vriendin gerig.
“Die gewapende verdagtes het hulle deursoek en hul selfone, sy dienspistool, beursie – met bankkaart, aanstellingsertifikaat, bestuurslisensies en mediesefondskaart – sowel as die vrou se handsak gevat.”
Luitenant-kolonel Masondo het gesê die verdagtes het die beamptes van ‘n onbekende bedrag kontant en ‘n vuurwapen beroof.
Hy het gesê die slagoffers is nie beseer nie en die polisie waarsku die publiek om versigtig te wees vir sulke voorvalle, aangesien daar reeds verskeie gevalle in Winterveld aangemeld is waar dieselfde modus operandi gebruik is.