Steeds geen raad teen Anesipho se pyn

Deur Anita Dangazele

Anesipho Gotyana het gedink sy sal vanjaar saam met haar klasmaats in matriek wees – maar ’n seldsame tipe kanker het daardie droom verydel.

Die helfte van die 17-jarige meisie van Peddie in die Oos-Kaap se gesig word deur ’n kankeragtige klier bedek.

Iets wat as ’n klein klier in haar mond begin het, het nou nie net haar gesig oorgeneem nie, maar haar hele lewe.

In Junie 2022 het Anesipho erge pyn in haar mond begin ervaar. Toe sy die kliniek in Glenmor-woongebied besoek het, is biopsie gedoen, en toetse het getoon dat dit kanker is. Die presiese aard daarvan is steeds onbekend.

Anesipho moet ’n taxi van Peddie na Makhanda haal om by ’n ambulans uit te kom wat haar Gqeberha toe kan neem vir haar maandelikse ondersoek. ’n Verdere struikelblok is dat haar familie soms sukkel om die geld vir die taxi-fooi bymekaar te skraap.

Haar pa, Vusumzi Lukashe, 45, het gesê sy dogter moes uit die skool gaan as gevolg van die pyn wat sy elke dag ervaar.

“Anesipho is sedert Junie verlede jaar in pyn. Sy het uitgehou tot en met haar finale graad 11 eksamen in November. 

“Ek onthou nog die dag toe sy besluit het om die skool te verlaat. Sy het my gesmeek om haar onderwysers te laat weet sy kan nie eksamen skryf nie. Sy het eenvoudig te veel pyn verduur,” het hy gesê.

Anesipho was baie jonk toe haar ma dood is, en sy het tot vroeg vanjaar by haar ma se familie in Peddie gebly. Toe het haar pa haar na Addo geneem, waar hy op ’n plaas werk.

Lukashe sê hy het dié stap gedoen vanweë die plaas se nabyheid aan Gqeberha, waar sy haar behandeling ontvang. Die taxifooi bly ’n probleem. Hy beroep hom nou op die publiek om enige moontlike hulp aan sy dogter te verleen.

Enigeen wat wil bydra kan haar pa, Vusumzi Lukashe, by (071) 096-6916 skakel.

In die foto hierbo: Anelisa Gotyana

Fotobron: Verskaf