LAATVAT MET LUCKY: Sedert die verbrokkeling van die verhouding tussen Nieu-Seeland en Springbokrugby, soek die Bokke ‘n nuwe stal om die kontantkoei te melk, onthou Lucky Maree.
Hoe hard hulle ookal probeer kan die Heersers van Rugby nie die realiteit verander nie: Moeder Aarde is ‘n yslike plek, en Suid-Afrika is doerver weg van die wêreld se ander rugbynasies.
Toentertyd was rugby (op alle vlakke) ‘n wintersport. In die Suidelike Halfrond is dit tussen Maart en Augustus gespeel. In ‘n besige jaar kon dit tot in September uitgerek word.
Die noorde se speelseisoen was van Augustus tot Maart.
Daarom was dit so moeilik om Springboktoere na Europa gereël te kry. Iemand sou buite seisoen moes speel.
Maar toe gebeur geld.
SuperRugby het as Super Agt begin. Maar hierdie netjiese klein toernooi vir agt spanne het skielik in ‘n reusagtigheid ontaard, gespeel deur 16 spanne op ‘n tuis- en wegbasis met ‘n reeks eindstryde oor die hele Suidelike Halfrond. Bekend as Sanzaar was die spanne van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië en Argentinië, en dit het net soveel oor vlugvoosheid gegaan as oor rugby.
Ons was erg geskok toe dit uitkom dat die Australiërs en Nieu-Seelanders nie meer teen Suid-Afrikaanse spanne wou speel nie. Daardie eens ystervaste reëling het begin om krake te wys.
Die Rugbykampioenskap, gespeel tussen die nasionale spanne van daardie vier lande, was ‘n groot sukses maar het uiteindelik ook ‘n probleemkind geword.
Nou ding Suid-Afrikaanse spanne mee in die EPCR Challenge Cup, die United Rugby Championship en die Heineken Cup. En elke week sien ons hoe spelers meer as 9,000 kilometer tussen Suid-Afrika en Europa vlerktrek, net om in uiterste weersomstandighede te moet speel. Die feit dat baie van hulle oorbluf lyk is te danke daaraan dat hul spanbestuurders hul bes probeer om drie verskillende spanne op dieselfde naweek van gehaltespelers te voorsien. Maar dis ‘n ander dag se debat.
Daar is eenvoudig nie ‘n tydgleuf op die kalender vir enige ander rugby nie! Of is daar?
Tydens hierdie Wêreldbeker-jaar het die noordelike spanne steeds daarin geslaag om ‘n (hoogs suksesvolle) Sesnasies-kampioenskap te hou. In die suide maak hulle nog tyd om ‘n mini-Rugbykampioenskap in te pas.
Die jongste konflik gaan hoeka oor skedulering. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie wil hê die Rugbykampioenskap moet in Maart plaasvind sodat hulle in Julie en tydens November se toetsvenster in Europa kan speel. Nieu-Seeland is min lus hiervoor, om dieselfde skeduleringsredes.
Bo en behalwe dit alles loop daar gerugte dat Wêreldrugby ‘n internasionale toetsliga vanaf 2026 wil aanbied. Dit mag dalk net die oorsprong van al hierdie skedulepyne wees.
Miskien is dit tyd om basiese vrae te vra. Hoe ver kan jy die menslike liggaam druk voordat hy breek? Moet jy elke druppel bloed uit daardie ekspert-opgeleide eenhede tap? Hoe verknog is ons aan geld?
Miskien staan Ellispark leeg vir ‘n rede. Miskien verbleik daardie 55,000 rooi stoele so pienk omdat hulle selde kykers se baste voel. Miskien is die sondebok nie televisie nie. Miskien is daar net heeltemal te veel rugby.
Op die foto hierbo: Die Springbokke tydens ‘n oefensessie
Fotobron: Springbokke