Deur Buziwe Nocuze
“Ek is gelukkig om te leef. Die koeëI wat my getref het, kon my doodgemaak het.”
So vertel die enigste buspassasier wat getref is toe onbekende aanvallers tienuur Sondagaand naby Cradock op ’n bus van Intercape losgebrand het.
Die 42-jarige man het Scrolla.Africa gevra om sy naam te weerhou, omdat hy bang is hy word geteiken.
Hy was na sy huis in Kaapstad op pad tydens die aanval.
Die busbestuurder het vir die passasiers gesê die bus word met klippe bestook en aangery om uit die gevaarsone te probeer kom.
Oomblikke later het die slagoffer ’n brandsensasie in sy linkerdy gevoel en bloed gesien. Hy het verskrik aan die persoon langs hom gesê hy is geskiet.
Daar het pandemonium onder die ander passasiers losgebars, veral omdat daar al verskeie busaanvalle op daardie deel van die pad was, skynbaar deur boewe wat bande het met die taxi-bedryf.
Die slagoffer het gesê hy het Intercape spesifiek gekies omdat hy geglo het dit sou die veiligste en vreedsaamste reis verseker.
“Ek kan ook nie die noodlot glo, dat ek die enigste persoon is wat getref is nie,” het hy gesê.
“Watse soort mens is dit wat op ’n bus vol mense skiet? Hulle is harteloos. Daar was kinders ook op die bus. Almal wou net in vrede reis.”
Hy is Maandag ontslaan. Hoewel hy “verskriklike pyn” verduur het, het hy gesê hy kan nie wag om by die huis te kom nie. ’n Voertuig van Intercape sou hom Kaapstad toe neem.
Intercape het die aanval bevestig, en gesê twee van hulle ander busse is ook Sondag in die Oos-Kaap aangeval.
Die Oos-Kaapse polisie-segspersoon, adjunk-offisier, Majola Nkohli, het gesê hulle ondersoek ’n saak van poging tot moord.
Intercape het die owerhede gevra om dringend op te tree teen hierdie aanvalle en die boswigte aan te keer. “Meer as 130 gevalle is in die Oos-Kaap aangemeld en nie ’n enkele persoon is in hegtenis geneem nie,” het die maatskappy in ’n verklaring gesê.
Hierdie onlangse aanvalle vind plaas te spyte van ’n hofbeslissing in Desember verlede jaar wat die destydse minister van vervoer, Fikile Mbalula, aangesê het om “dringend” die aanvalle op die langafstand-busdiens Intercape aan te spreek, volgens ’n berig deur News24.
Intercape se verklaring lui verder dat die Oos-Kaapse Hooggeregshof in Makhanda vir Mbalula aangesê het om “dadelik, en met die grootste dringendheid, ’n plan van aksie te ontwikkel en toe te pas om die veiligheid van busbestuurders en passasiers te verseker.”
Landwyd was daar toe al meer as 150 gewelddadige insidente teen langafstend-busdienste, wat skietery, klipgooi en intimidasie insluit, vermoedelik deur onwettige taxi-verenigings wat die roete wil beheer.
Die voortdurende geweld het vrees onder reisigers gesaai, veral met die oog op die groot aantal mense wat Paasnaweek familie gaan besoek.
In die foto hierbo: ’n Stukkende venster van die bus waarop skurke Sondag geskiet het
Fotobron: Zandile Bangani