‘n Onderwyseres van Florida in die VSA is gedwing om te bedank nadat sy foto’s van Michelangelo se beroemde standbeeld van Dawid aan haar studente gewys het. Die Italiaanse Renaissance-kunstenaar het die meesterstuk tussen 1501 en 1504 geskep.
Die preutse Tallahassee Classical School het beweer dat Hope Carrasquilla se wys van prente van die standbeeld gelykstaande is aan die deel van inhoud wat naaktheid afbeeld.
Ouers van leerders in die skool het kommer uitgespreek dat hulle nie bewus gemaak is dat die naakte beeld aan hul 11- en 12-jarige kinders gewys sou word nie.
Een ouer het die werk as ‘pornografies’ beskryf, het The Times berig.
Die Tallahassee-skool is verbonde aan Hillsdale College – ‘n privaat konserwatiewe Christelike instelling.
Die skool beweer dat hy ” jongmense se verstand en harte ophef deur ‘n inhoudryke klassieke opleiding in die liberale kunste en wetenskap, met onderrig in die beginsels van morele karakter en burgerlike deug”.
In reaksie hierop het die burgemeester van Florence in Italië die uitgewerpte onderwyseres na die stad genooi om die standbeeld, as’t ware in die vlees, te kom bewonder.
Burgemeester Dario Nardella het gesê dit is belaglik dat Carrasquilla haar werk kwyt is omdat sy die beroemde kunswerk aan haar studente gewys het.
“Kuns is beskawing en diegene wat kunsonderrig verskaf verdien respek,” het Nardella gesê.
Cecilie Hollberg is direkteur van die Accademia galery waar die standbeeld ten toon gestel word, en sê naaktheid mag nie met pornografie verwar word nie.
“Die jong man was naak omdat hy ‘n herder was,” het Hollberg gesê.
“David is ‘n kunswerk by uitstek. So skoon, so nugter, met helderheid uitgedruk. Jy moet ‘n verwronge verbeelding hê om dit met pornografie te assosieer.”
Die onnie het dalk haar werk verloor, maar pak nou haar tasse vir die gratis uitstappie Italië toe. Buon viaggio, juffrou Carrasquilla!
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Op die foto hierbo: Standbeeld van Dawid